Nuwe gewoontes, nuwe lewe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Waarskynlik een van die be­lang­rikste insigte die afgelope dekade is oor die krag van gewoontes. Daar verskyn elke jaar ’n magdom boeke en artikels hieroor en die boodskap is duidelik: Jou gewoontes gee vorm aan jou lewe, dit bepaal jou identiteit, hoe lank jy gaan leef, hoe gelukkig jy is, hoeveel finansiële sekuriteit jy gaan hê, hoe jou verhoudings gaan uitspeel.

In die nadenke oor die gestuurde gemeentes weet ons dit lankal: Dit is nie die groot projek nou en dan wat bepaal of gemeentes en gemeentelede hulle roeping uitleef nie. Dit lê in die gewoontes, in die dinge wat ons oor en oor doen, later selfs sonder dat ons dit agterkom.

Daarom is die aanleer van nuwe gewoontes ook die sleutel tot die veran­dering van die gemeente se kultuur. Ons dominees dink dikwels dat ons net moet preek oor ’n saak en dat mense se houdings, denke en gedrag dan sal ver­ander. Dit werk egter nie so in die regte wêreld nie.

My vrou is musiekonderwyser en sy het al dikwels gesê: “Dit is net julle dominees wat dink dat as jy iets gesê het, dan het dit gebeur. Al wat gebeur het, is dat jy dit gesê het.” (Bedoelende: moet ook nie te seker wees dat die mense jou gehoor het nie.) Musiekon­derwysers weet: As jy nie gereeld oefen nie, gaan jy nooit die instrument bemeester nie. Die verandering vind nie plaas in die les nie, dit gebeur as jy die nuwe tegniek oor en oor doen tot dit vasgelê is.

Om die kultuur en karakter van ’n gemeente te verander na ’n gestuurde gemeente, moet ons nuwe gewoontes aanleer. Daar is sekere kerngewoontes wat gemeentes help: die gewoonte om die Bybel te lees met die verwagting dat God ons sal vorm om gestuurdes te wees. Die gewoonte om buite die grense van ons gewone leefwêreld te beweeg. Die gewoonte om God se teenwoordigheid in die wêreld raak te sien. In die gemeentelewe gaan dit oor gewoontes soos om besoekers elke Sondag in die eredienste te verwelkom, om die bedieninge te belyn met die roeping en om na mekaar se stories te luister oor waar ons God se liefde gegee of ontvang het.

Daar is ’n dubbele verhouding tussen gewoontes en houdings: Aan die een kant sê jou gewoontes wat vir jou be­lang­rik is. Jy doen dinge oor en oor omdat dit vir jou belangrik is en omdat jy daarvan hou. Aan die ander kant gee ons gewoontes ook weer vorm aan ons houdings. As jy iets oor en oor doen, hou jy ook later daarvan en word dit vir jou belangrik. Nuwe gewoontes vorm ook jou hart en jy word ’n nuwe mens.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.