Vegetariër se wroeging: ‘Ek was so lief vir braaivleis’

Dit is belangrik dat ons as Christene sensitief moet word vir die impak wat ons eetgewoontes op die omge­wing het en hoe dit bydra tot kli­maats­verandering. Ek deel hier met julle iets van my eie verhaal:

Dit het met Advent 1990 begin. Die preekstudies se tekste vir hierdie Advent het onder andere die vredesmetafoor van Jesaja 11:6-9 ingesluit. Jesaja het my uitgedaag om saam met hom te droom van ’n aarde waarop alle verhoudings gekenmerk word deur vrede. Die Here het my veral aangespreek oor my persoonlike verhouding met die natuur. Die vraag wat uiteindelik my nadenke hieroor oorheers het, was die volgende: “Hoe weet die res van die skepping dat hulle nie vir my bang hoef te wees nie?” (Kyk gerus na hoe hierdie teks as ’t ware Genesis 9:2-3 regmaak.)

Dit het onder andere ’n gesprek oor ons huisgesin se dieet losgemaak.

Dit was vir sommige in ons gesin maklik om die aanpassing te maak, maar nie vir my nie! Ek was so lief vir braai – en droëwors en biltong!

Ek het ons vegetariese dieet met entoesiasme aanvaar toe ek leer verstaan het dat ek daarmee vir beide myself en vir die omgewing ’n guns bewys. Gaandeweg het ek ook opgehou om myself jammer te kry, omdat ek nie meer vleis eet nie.

Daar is ten minste twee redes waarom ek nog nooit spyt was oor die aanpassing in ons dieet nie:

  • Ek is beloon met beter gesondheid. Baie van die spysverteringspro­bleme waarmee ek van my kin­der­jare af saamgeleef het, was iets van die verlede.
  • Die vrede in my verhouding met die natuur en myself het bly groei.
  1. In die verlede wanneer ek agter ’n trok met lewende hawe gery het wat op pad was slagpale toe, het ek altyd geweet ek is medeverantwoordelik vir dié diere se dood. Ek dra nie nou meer hierdie las nie.
  2. Ek het al meer sensitief geword vir die ekologiese dimensies in die Bybel, totdat die ekologie die hooffokus van my bediening (lewe) geword het.
  3. Ek het al meer bewus geword van die wreedhede in die massavervaardiging (factory farming) van vleiskos vir die mens en dat ek my bydrae moet maak om dit stop te sit.

▶ David Botha van Projekspan Eko­logie se storie is onlangs via Vrydag­Nuus met lesers gedeel. Hierdie is ’n verkorte uittreksel. Lees gerus verder by http://getuienis.christians.co.za