Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Heilige oomblikke. Dit lê aan die hart van menswees: die reeks onherroeplike gebeure en tydsgrepe in die verloop van elkeen se lewenstorie. Die moment van belofte voor die kansel; die tyd in die hospitaal met ’n pasgebore baba; die ruk langs ’n siekbed; die tydstip waarin ’n laaste asem uitgeblaas word; en die tye van saamwees by ’n familie en gemeenskap wat van ’n geliefde afskeid neem. As predikante word ons dikwels in hierdie heilige oomblikke van vreugde, van ’n nuwe begin, van hartseer en van verlies – die mees intieme ruimtes van die lewe – ingenooi en toegelaat om getuies van God se teenwoordigheid te wees.
Die skielike en tragiese dood van die jong Matiestudent, Leandró Hopley, het weer hierdie voorreg van dominee-wees aan my duidelik gemaak. Ek het vir Leandró as graad 8 en 9 seun in Huis Hugenoot, die koshuis van Hugenote Hoërskool in Wellington, leer ken en as ek my oë vir ’n oomblik toemaak kan ek vir jong Leandró voor my sien staan: Hierdie ondeunde seun met ’n vonkel in die oog en ’n breë glimlag wat jou altyd met ’n grappie en ’n druk by die trappies van die koshuis ingewag het. Hy was ’n seun wat uit sy pad gegaan het om met ’n borrelende vreugde vir ’n kamermaat, ’n klasmaat en ’n vriend wat swaarkry, lig te wees.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/08/Angelique-Havenga1.jpg” caption=”Ds Angelique Havenga is jeugleraar by die Moedergemeente Stellenbosch.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Maandagaand (30 Julie), vyf dae voor sy roudiens, kon ek saam met ’n klomp van Leandró se matriekklasmaats, onderwysers en vriende, die lewe van Leandró en die maniere waarop hy ons elkeen aangeraak het, tydens ’n liturgiese diens in herinnering roep en vier. In hierdie heilige ruimte waar almal se hartseer en trane nog vlak lê, kon ek hoor van Leandró-vreugde wat hy aan almal rondom hom uitgedra het. Hierdie vreugde waarvan hy oorgeborrel het, het elkeen in sy omtrek belangrik laat voel en wanneer hy jou êrens by die skool of kampus sou raakloop, het die blydskap waarmee hy jou ontvang het, jou laat voel asof jy presies die persoon was wat hy nou wou sien. In die woorde van een van sy vriendinne: “He made everybody feel like a somebody.”
Na afloop van die samekoms vertoef ek nog ’n paar minute in die stoelsirkel wat uitgepak is en word ek diep bewus daarvan dat die herinneringe wat in hierdie oomblik gedeel is die storie van Leandró en wat hy vir ons elkeen beteken het, lewend hou. Dit is ’n storie wat ons daaraan herinner dat die lewe nie net uit grootse gebeurtenisse bestaan nie, maar dat daar in elke moment van saamwees iets van die Ewigheid kan deurskemer; dat elke oomblik inderdaad heilig is. Soos CS Lewis skryf: “For the Present is the point at which time touches eternity.”
▶ Ds Angelique Havenga is jeugleraar by die Moedergemeente Stellenbosch.