Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Is dit kuns of kitsch?


Daar is ’n vraag wat nie altyd maklik is om te beantwoord nie, en dit is of ’n werk wat deur ’n kuns­tenaar geskep is, kuns of kitsch is. Soms is dit doodgewoon so dat wat vir die een persoon kuns is, vir ’n ander kitsch kan wees. En soms gebeur dit dat iets wat werklik kuns is, vanweë wangebruik kitsch word.

Die term “kitsch” is ’n Duitse leenwoord wat aanvanklik gebruik is om te verwys na goedkoop, populêre en maklik bemarkbare items, maar wat mettertyd ontwikkel het tot ’n tegniese term vir ’n bepaalde tipe kunsproduk wat ver­al gekenmerk word deur oordrewe sentimentaliteit en melodrama.

Die kunsfilosoof Robert Solomon verwys op hierdie noue verband tussen kitsch en sentimentaliteit en sê dan: “Kitsch is calculated to evoke our emotions, especially those emotions that are best expressed by the limp vocabulary that seems embarrassingly restricted to such adjectives as ‘cute’ and ‘pretty’ or that even more humiliating, drawn out ‘Aaaah’.”

Die probleem is natuurlik dat alle groot kunswerke ’n emosionele bele­we­nis by mense kan wek en met verloop van tyd ook bepaalde sentimentele be­te­kenis verwerf. Die toets is waarskynlik of die sentimentele gevoelens oppervlakkig en oordrewe is, en of die kuns­tenaar berekend poog om hierdie soort gevoelens teweeg te bring.

Kitsch word dikwels ook in verband gebring met kuns wat deur massa­produksie geskep word en spesifiek gerig is op die smaak van die gemiddelde massamens. Dit beteken gewoonlik produkte wat maklik toeganklik is en nie veel intellektuele en estetiese eise aan die verbruiker daarvan stel nie – en dan word daar hier juis in terme van die “verbuiker” van ’n “produk” gedink.

Die verwysing na massaproduksie bring in ons geïndustrialiseerde wêreld na­tuurlik sy eie komplikasies en vrae mee: Is kunswerke soos die “Laaste Avond­maal” van Leonardo da Vinci of Michelangelo se fresko’s in die Sistynse kapel of Albrecht Dürer se “Biddende Hande” kitsch omdat dit deur eindelose reproduksie gemenegoed geword het, of behou dit hulle intrinsieke waarde as “hoë kuns”?

Immanuel Kant se konsep van “estetiese idees” mag dalk in hierdie verband bruikbaar wees. Hy wys naamlik daarop dat sekere ervarings van skoonheid aanleiding gee tot die totstandkoming van iets meer verhewe, ’n eie wêreld met sy eie wetmatighede wat deur die kuns­tenaar tot stand gebring word. Kuns wat dit bewerkstellig, sou dan as “hoë kuns” beskou kon word, terwyl kuns wat op onmiddelike bevrediging gerig is, as “kitsch” bestempel sou kon word.

’n Eiesoortige dog betekenisvolle perspektief is dié van Milan Kundera in sy bekende roman The unbearable lightness of being waar hy na kitsch verwys as ’n estetiese ideaal “in which ‘shit’ is denied and everyone acts as though it did not exist.” Wat in sulke kuns ontken word, is “all the bad, disgusting, negative, violent, depressing things in the world.” Kitsch, sê hy dan, “excludes everything from its purview which is essentially unacceptable in human existence.”

Toegepas op religieuse kuns sou ’n mens dan kon sê: Dit is “kitsch” as dit oordrewe en oppervlakkige sentimentele gevoelens wel by mense wat daaraan blootgestel word, as dit gerig is op massakonsumpsie, en as dit op eensydige wyse ’n rooskleurige weergawe van die werklikheid voorhou. ’n Mens sou sulke kuns natuurlik ook as “onevangelies” kon bestempel, omdat die Bybel juis nie bedoel is om goedkoop sentiment te wek nie, ook nie gerig is op die bevrediging van die grootste gemene deler van menslike behoeftes nie, en beslis nie die negatiewe en neerdrukkende aspekte van menswees ontken nie.

Religieuse kuns wat daarop gerig is om die mens op ’n dieper emosionele vlak aan te spreek, wat bedoel is om hoër lewenswaardes te bevorder (son­der om “prekerig” te wees), en wat bereid is om die werklikhede van die lewe vierkantig en onsentimenteel in die oë te kyk, sal dan waarskynlik die toets kan slaag om as verhewe kuns beskou te kan word.

Beteken dit nou dat slegs verhewe kuns as waardevol beskou kan word en dat alle kitsch sonder meer as beteke­nisloos afgewys moet word? Nie nood­wen­dig nie, want daar is baie massa-­geproduseerde objekte soos byvoorbeeld gebedskerse, kruishangertjies en repro­duksies van religieuse kunswerke wat nie spesifiek enige intrinsieke kuns­waarde het nie, maar wat tog esteties bevredigend is en wat as funksionele “tools of faith” betekenis in die geloofs­lewe van mense kan hê.

Die gevaar waarteen daar gewaak moet word, is ’n vervlakking van die Christelike geloof tot oppervlakkige sen­­timent en kuns wat ’n valse beeld van die werklikheid skep asof alles net goed en mooi is. God het in Christus juis in ons morsige wêreld mens geword en onder mense in hulle ellendige aard­se omstandighede kom woon. En die liefde waarvan die kruisverhaal vertel, is nie goedkoop sentiment nie, maar ’n verbintenis (“commitment”) wat die vol­le risiko van menswees tot die bitter einde toe dra. Dit is juis daardie onwrikbare liefdesdaad wat geloof en wederliefde wek. Kuns wat dit verbeeld, is goed – of dit nou kitsch is of nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.