Swanger op die kansel: Dankie, Mevrou!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Ons kan nie ’n vrou beroep nie, Dominee – sê nou net sy raak swanger – en hoe gaan ’n swanger vrou op ons kansel lyk”? “Net nie ’n vrouepredikant nie, Dominee – sy gaan sukkel met die plaas­hekke wanneer sy huisbesoek doen.” “Ons kan nie ’n vrou beroep nie, Dominee – dis deesdae heeltemal te gevaarlik vir vroue om alleen in die aand rond te ry: Wat gaan gebeur as sy lidmate ie­wers in die nag tydens ’n krisis moet bystaan?” “Paulus sê mos ie­wers in die Bybel dat vroue in die gemeente moet stilbly, nie waar nie, Do­minee – so ’n vroue­predikant is uit!

Alhoewel sommige van hierdie onsinnige opmerkings nog af en toe gehoor word, behoort dit grootliks tot die verlede. Vrouepredikante is nie meer ’n vreemde verskynsel op die kansels van die NG Kerk nie. Tog was dit allermins ’n maklike pad.

Nadat die Algemene Sinode vroue in 1982 tot die amp van diaken toegelaat het, sou agt moeilike jare verloop. In 1983 het prof EPJ Kleynhans tydens sy intreerede aan die Universiteit van die Vrystaat nog gewaarsku teen die “onheiligheid wat hy sien kom as vroue moontlik predikante sou word.” Die belangrike besluit wat die deur vir vroue oopgemaak het, is egter tydens die Algemene Sinode in 1990 geneem. Die vergadering het besluit en erken dat die ampte van diakens, ouderlinge en pre­dikante gelyk is. As vroue as diakens kon dien, kon hulle ook as ouderlinge verkies word en ná teologiese opleiding as predikante na gemeentes beroep word. Vier jaar na hierdie historiese besluit is Gretha Heymans in 1994 as eerste vroulike predikant van die NG Kerk in die gemeente Kovsiekampus in Bloem­fontein bevestig.

Tydens die Algemene Sinode van 1998 het ’n verslag voor die vergade­ring gedien waarin vir billike arbeids­praktyke vir vrouepredikante gevra is. Restitusie is ook bepleit vir dié vroue wat lank reeds afgestudeer het, maar wat as ongeordendes nie toegang tot die kerk se pensioenfonds gehad het nie. Die NG Kerk het ook tydens die vergadering amptelik om verskoning gevra vir die onreg wat vroue aangedoen is deur hulle vir baie jare van die ampte uit te sluit.

Augustus is Vrouemaand! Tans word baie gemeentes in die NG Kerk met groot seën deur vrouepredikante be­dien terwyl die aantal vroulike teologie­studente jaarliks toeneem. Die NG Kerk kan spreekwoordelik sy hoed hoog lig vir die rol wat vrouepredikante in die bediening speel. Met groot oorgawe kan die kerk onvoorwaardelik dankie sê aan al die vrouepredikante wat wel swanger op kansels staan, wat met plaashekke tydens huisbesoek sukkel, wat lidmate diep in die nag ondersteun al is dit onveilig, maar wat bo alles die evangelie helder en duidelik verkondig!

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.