Is kategese die moeite werd?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Baie mense vra vir my of kategese nog die moeite werd is. In heelwat gemeentes taan jeuggetalle en ouers is dikwels onbetrokke. Die jeug se kerkbywoning is ongereeld en groep­leiers sukkel om ’n les te laat werk. Die makliker opsie is om groot groepby­een­komste te hou of kategese oor te laat aan ouers.

My reaksie hierop is dat kategese die sterkpunt van die NG Kerk se jeugbedie­ning is! Ons kultuur om weekliks in groepies te ontmoet en kinders se ge­loof intensioneel te vorm, is een wat ons be­slis moet behou en koester. Dit be­teken egter nie dat die kategese se styl en inhoud nie hersien moet word nie. Heel dikwels is dit waar die probleem lê.

Die droom van enige gemeente is dat kinders en tieners Jesus persoonlik sal ken en dat hulle geloof sal vorm wat hulle help om as sy dissipels te leef en ’n verskil te maak in die wêreld. Die beste manier om hierdie geloof intensioneel te vorm is deur persoonlike dissipelskap­verhoudings. Kleingroepe, mentorskap en gereelde ontmoetings is dus essensieel. Kategese het die potensiaal om hier­­die verhoudings te fasiliteer indien dit so ingerig word.

Gemeentes wat geloof by kinders en jongmense vorm:

  • Rus hulle toe met vaardighede om Bybelse waarhede prakties toe te pas.
  • Oefen gewoontes wat help om daagliks in ’n verhouding met ander mense en God te leef.
  • Skep geleenthede om diensbaar te wees en te ontdek hoe hulle hul roeping kan uitleef.
  • Bewonder die misterie van God en aanbid Hom op verskeie maniere.

Die vraag is dus eerder: Hoe moet ons kategese hersien of aanpas, sodat dit (weer) hierdie tipe geloof kan kweek?

’n Afrika-spreekwoord lui: “It takes a village to raise a child,” en dit is ook waar van geloofsvorming. Dit is nie net een persoon (byvoorbeeld die groepleier) se verantwoordelikheid om geloof te vestig nie. Ouers, ander volwassenes, jongmense, predikante, bejaardes ensovoorts is almal deel van die “village”. Die mikpunt is dat elke kind of tiener ten minste vier volwasse, gelowige persone moet hê wat in sy/haar lewe inbou. Hoe kan julle hierdie droom prakties gestalte gee?

Praktiese wenke:

  • Hersien die styl en inhoud van kate­gese. Is dit ’n “les” waar kennis oorgedra word of is dit ’n “ontmoeting” waar ge­loof deur verhoudings gevorm word?
  • Rus kategete toe om “mentors” of “fasiliteerders” te wees wat geloofsvor­ming begelei eerder as “onderwysers” wat bloot Bybelkennis oordra.

Ds Anriëtte de Ridder is predikant in Sinodale Diens: Jeug en Familiebedie­ning, Communitas, Sinode van Wes-Kaap­land.