‘Mense kry hul tyd hier’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Nou die dag kom ek op Touwsrivier. Eintlik wil ek gaan kyk wat gaan op die dorp se treinstasie aan, maar dan merk ek dit: Die horlosie in die NG Kerk se toring loop presies op tyd. Iets wat jy nie meer oral sien nie.

Op soveel plekke in die land, op die platteland en in die stad, het die kerk se horlosie gaan staan. Ek maak ’n punt daar­van om daarna te kyk.

Ek ry na die kerk toe, verby die Hoërskool Touwsrivier wat leeg staan, met ’n dak wat afdop en onkruid wat kniehoogte op die speelterrein groei. Die gebou waarin die FNB Bank was, is ook leeg. In die ou kontantwinkel verkoop ’n kêrel uit Pakistan nou goedkoop Chinese ware. Niks sal hier weer wees soos dit was in die dae toe Touwsrivier ’n vooruitstrewende spoorwegdorp was nie.

Maar by die kerk lyk alles nog netjies. Die grasperk is kort gesny, en in een bedding is die jakobregops aan die blom – ’n ou staatmaker in elke kerktuin.

Die terrein is nie met ’n tralieheining omhein nie, anders as op baie ander plek­ke.

Ek parkeer die bakkie en klim uit. Die hekkie is nie eens gesluit nie. ’n Ry sipresse langs die sementpaadjie. ’n Bedding rose.

Alles hier is vir my onbekend, en tog ook so bekend. Ek het in ’n pastorie langs ’n plattelandse kerkgebou soos dié grootge­word. Byna instinktief slaan ek my oë op na die dak om te kyk of daar swaeltjieneste on­der die nokke is.

Om die hoek, van die konsistorie se kant af, kom ’n oueri­ge, se­ningrige man ge­stap. Hy het ’n knyptang van ’n handdruk. Sakkie Adams, ’n afgetrede spoorwegman. Hy is die koster hier, al vir elf jaar.

Touwsrivier het nie meer ’n voltydse leraar nie. Op ’n goeie Sondag sit hier skaars vyftig siele in die kerk. Maar kyk jy na die geboue – die kerksaal is langs­aan – en die tuin, sal jy sê dis ’n voor­uitstrewende gemeente.

“Ek gaan elke dag daar op,” sê oom Sakkie en beduie na die horlosie in die toring. “Jy moet hom elke 28 uur opwen, anders loop staan hy.”

Al vir elf jaar klim hy elke dag daar op. Net af en toe sal hy oor ’n naweek vir ’n dag of twee weg­gaan.

Sakkie Adams

“Jy kan self die som maak: drie­hon­derd vyf en sestig keer per jaar.” Hy bly ’n ruk stil. “Ek was seker al so vierduisend keer daar op.” Hy het onlangs sewentig geword.

Hy wil vir my die kerk wys. Ek stap agter hom aan deur die konsistorie, en probeer name vind vir als wat ek ruik: vloerpolitoer en Brasso en meubelolie en ou smeekgebede.

Iewers tussen die kansel en die nagmaalstafel gaan staan hy, asof hy vir my wil sê: Kyk, en glo wat jy rondom jou sien. Alles is skoon en alles blink wat moet blink.

“Om te dink ons het hom elke Son­dag vol gesit.” Hy beduie oor die banke uit. “Laas Sondag was hier net 36 mense by die diens.”

Die dorp se agteruitgang het in die jare tagtig begin toe Transnet besluit het om die treindienste te rasionaliseer. Al minder treine het op die stasie hier naby begin stilhou. Al meer werkers is af­ge­dank. Al meer mense wat die dorp verlaat.

Ons gaan weer buitetoe. “Hier is maar skelms by ons ook, jy weet. Hulle breek mos nou by die kerke ook in.”

Net gister moes hy weer moeilikheid­makers hier verjaag.

“Die mense kom gou agter as die horlosie nie reg loop nie.” Hy beduie weer na die horlosie in die toring. “Kom ek in Spar sal een sommer maklik vir my sê: Sakkie, jou horlosie loop laat. Of hy is te vroeg. Die mense kry hulle tyd hier.”

Dis mooi gestel: Die mense kry hulle tyd hier. By die kerk.

Later groet ons. Ek weet nie hoekom soveel kerke se horlosies gaan staan nie. Miskien is party stukkend en niemand herstel in hierdie elektroniese tye meer sulke horlosies nie. Miskien is daar nie meer ’n koster wat elke dag by die kerk se toring kan opklim nie.

Ek gaan klim in die bakkie. Oom Sakkie staan vir my in die truspieëltjie en waai toe ek wegry.

Een seningrige man, ’n koster, wat die orde bewaar waar agteruitgang dreig. Sy jakopregops wat hardnekkig in die beddings blom en die horlosie in die toring wat wys dis nou presies tien oor twaalf.