Boekbespreking: Om nie die Bybel ‘te laat buikspreek’ nie

Hoe leer ’n mens om uit die Bybel te leer? vra Le Roux Schoeman.

Herinnering & verlange: Gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel deur Louis C Jonker
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
Verkrygbaar by: www.sun-e-shop.co.za | e-pos: orders@africansunmedia.co.za


Dinge gaan rof in 2 Samuel 13. Bloot op vertelvlak moet ’n mens net dadelik noem dat die verhaal een van die meer onvergeetlike ope­ningsparagrawe het: “Toe het daar ’n ding gebeur”.

Daarna volg ’n riller van ’n broer-en-suster-verhaal. Dit is pakkend, meesleu­rend geskryf. Elke sin dryf die verhaal vorentoe. Amnon onteer Tamar.

Ons spring na die einde van vers 20: “… (Tamar) was ’n wrak.” Wat op aarde lees ons hier? Jy wil jou half verbeel hoe die leser die boek eers half toeslaan en weer na die omslag en die flapteks kyk vir ’n bietjie toeligting, soos ’n mens miskien plek-plek in ’n JM Coetzee-boek sal maak.

Ek sit myself op dié punt in die skoene van ’n jong teologiestudent of twee. Vrome laattieners. Nuuskierig oor die wêreld en hulle plek daarin. Op ’n manier het hulle besluit om ’n dominee te word – ‘geroepe gevoel’. Nou het hulle in die akademiese stroomversnelling van ‘Hoër Kritiek’ beland aan ’n universiteit te midde van eerstejaarsverwel­komingsaktiwiteite. Die laaste boek wat hulle op skool gelees het, was mi­skien Kringe in ’n bos of iets van Etienne van Heerden. Hulle het ge-dabble in Shakespeare en dalk ’n wydlopende opstel of twee oor Wilfred Owen se oorloggedigte gepen. Nou, op die wieke van dié en enkele ander avonture in teksinterpretasie en begripstoetse, word die studente blootgestel aan tekskritiek, bronnekritiek, vormkritiek. Daar sit hulle, skaars 19 jaar oud, begeesterd vir “die bediening” wat aan die ander kant van een of twee vinnige universiteitsgrade wag en probeer onderskei tussen Gattung, Sitz im Leben, und so weiter en maak kennis met Wellhausen, Von Rad en Noth – akademici wat jou so ver uit jou intellektuele gemaksone rek dat jy begin wonder of jy ooit weer van die oefening gaan herstel.

Die student word geleer hermeneutiek is nie interpretasie nie – hokaai met al daai gretige Skrifuitleg by die eerstejaarskamp! – maar nadenke óór interpretasie. ’n Dosent sal dalk daarop wys dat, wat die Bybel betref, daar minstens sowat 20 eeue tussen teks en konteks lê. En dit is boonop volgepak met kerklike tradisie van interpretasie, waarvan jy maar eweneens kan kennis neem. En dan raak dinge ingewikkeld. Kaartwerk … Die Nyl en Eufraat. Kleinstate van Siro-Palestina. En die student kom miskien nou tot die gevolgtrekking dat hy / sy as ’t ware te min weet om ’n stewige kultuurantropologiese benadering te volg. Op dié punt is die eerstejaar soms voor die versoeking om òf bitter ernstig oor sy studies te raak, òf om ’n bietjie na neutrale rat te verwissel op akademiese front en eerder die breër kampuslewe te gaan verken en by die sêrgroep aan te sluit. Want, ongeag hoe knap jou Son­dagskoolonnie was, het min daarvan jou waarskynlik voorberei op dié ma­nier van Bybellees. Dieselfde geld vir die gewone Bybelleser – die man / vrou op straat. Waar presies leer ’n mens hoe om uit die Bybel iets te leer – tokkelok of te not? En presies wanneer in jou geloofslewe is jy ontvanklik vir die idee dat jy die teks wat instrumenteel was tot jou geloofsvorming dalk nie verantwoordelik lees nie? Gestel, byvoorbeeld, jy lees dit as ’n glorified geskiedenisboek, op watter punt besef jy dat ook geskiedenis ’n geskiedenis het. En dat, soos Ferdinand Deist en Jurie le Roux in Rewolusie en reïnterpretasie (1987) skryf: “Die historiese bewussyn gaan by Israel en die Grieke terug tot slegs omstreeks 1300 vC. Die invloed van die vroeëre gebeure op die ‘historiese tyd’ is in die vorm van mites, sages en dies meer oorgelewer.” En binne die historiese bewussyn is daar boonop strominge en tradisies soos die nasionale teologie te sien in die boek Samuel se uitbeelding van die Dawidsdinastie.

Op hierdie punt voel die redelike student waarskynlik ’n bietjie dommer geleer pleks van slimmer geleer. En dosente is bewus van dié dilemma. “Empirical hermeneutics has taught us the important lesson that lay readers often feel disempowered when they realize that there are worlds behind the texts of which they have little or no knowledge,” skryf prof Louis Jonker in ’n feesgeskrif vir ’n kollega (in 2015). “This realization leads them to despair that their own interpretations from their contemporary environments are of no value or ‘incorrect’.”

Nou loop die einste student dalk eendag klas by einste prof Jonker. Hy gee Ou Testament. Hy meen dat alle tekste, ook Bybelse tekste, kultuurverskynsels is en hy maan dat ’n deeglike onderskeid gemaak moet word tussen vertelde tyd (die tyd waaroor vertel word) en die verteltyd (die tyd waarin vertel word). Sy uitnodiging is dus een wat jou weg van sogenaamde a-historiese of kontekslose interpretasies nooi. “Ek stel daarom voor dat ’n analo­giese model van interpretasie gebruik moet word om eers erns te maak met die seggingskrag van die Bybeltekste in hulle kontekste van oorsprong voordat daardie proses van interpretasie analogies voortgesit moet word in ons eie hedendaagse konteks,” skryf Jonker in sy nuwe boek, Herinneringe & verlange.

Die boek word beskryf as ’n “nostalgiese reis” en betrek op vindingryke (en soms speelse) wyse die werk en nalatenskap van Jonker se “leermeesters”, naamlik prof Deist, biskop John Colenso en prof Johannes du Plessis.

Wat Jonker het om mee te werk is ’n diep kennis van dié drie se werk en hy tree dus in dié boek as ’n tipe kurator van hulle bydraes op.

Vir Deist haal Jonker op bl 116 as volg oor die historiese verstaan van die Bybel aan: “Die Bybel is nie ’n boek van bowe-tydelike waarhede van die dogmatiek nie. Die Bybel het sy ontstaan in die geskiedenis en spreek met mense wat in die geskiedenis lewe.”

Daardie uitgangspunt is een van die gemene delers in die denke van die drie figure wat Jonker in sy boek denkbeeldig onthaal vir ’n stoep-gesprek.

Dis egter ’n enkele aspek uit die wye ambisie wat Jonker met die aanpak van sy boek gehad het, wat ek hier wil betrek: sy uiteensetting van die verskil tussen:

Vertelde tyd: Tyd waaroor vertel word.

En verteltyd: Tyd waarin vertel word.

Hieroor skryf Jonker: “Die nadruk op ’n analogiese benadering sou verkeerd verstaan word as dit sou beteken dat die wêreld / situasie wat in die Bybelteks geskets word (“vertelde tyd”), analogies is tot my eie werklikheid as leser, en dat ek daarom ’n direkte verband kan trek tussen daardie situasie en my eie situasie,” skryf hy op bl 33.

“Byvoorbeeld: As die ‘vertelde tyd’, die gebeure wat in 2 Samuel 13 geskets word rondom die verkragting van Tamar, direk in verband gebring word met die verkragtingskultuur van ons eie dag, word die analogie verkeerd opge­stel,” skryf Jonker. “… So ’n direkte verbandtrekking tussen die literêr-gekonstrueerde werklikheid in die Bybelteks (“vertelde tyd”) en my eie werklikheid, sou in die gevaar staan om deur my eie ideologiese posisie gekaap te word. Dan sou ek die gegewens van die teks kon laat buikspreek om my boodskap aan ’n hedendaagse konteks oor te dra.”

Wat hierdie leser Jonker hoor sê, is dat ’n mens ewe veel moet let op die vrae wat jy na die teks neem as die antwoorde wat jy daaruit soek. Waarom sou ’n storie wat in Dawid se tyd afspeel (‘vertelde tyd’) en waarin ’n seun van die koning sy halfsuster verkrag, in die ballingskapsperiode (‘verteltyd’) vertel word?

Dit is daardie vraag, meer as net die antwoord daarop, wat, soos die klomp Duitsers dit sou noem, die Aha-erlebnis (Aha-oomblik) moet besorg, meen Jonker.

Hy sê die kern van Tamar se verhaal is nie die feit dat mans nie vrouens moet verkrag nie. Indien ’n mens die verhaal in Jonker se woorde “analogies interpreteer” is dit eerder dat mans en vrouens nie hulleself só aan mag moet vergryp dat dit uiterste gevolge vir die mense om hulle sal hê nie.