‘Aan God al die eer vir die Bybel wat Afrikaans praat’

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

“Aan God al die eer vir die Bybel wat Afrikaans praat! Vir die ongelooflike rykdom wat in 1933 aan die Afrikaanssprekende gelowige uitgedeel is.”

Só het dr Gustav Claassen die afgelope naweek in Pretoria gesê by ’n geleentheid ter viering van die eerste Bybel wat in Afrikaans verskyn het.

“Die Bybel is in die eerste plek ’n geloofsboek, In die kern van die Bybel staan God en sy verhouding met die mens,” het die algemene sekretaris van die NG Kerk by die geleentheid gesê.

“Regdeur die Bybel is groot verhale van die mens se weerloosheid en krag, koppigheid en nederigheid, armoede en voorspoed, lyding en vreugde,” het Claassen in sy bydra gesê, wat  wat Kerkbode hieronder volledig publiseer.

Volgens Sakkie Kotze, ’n projekbestuurder by die ATKV het  het dié organisasie die Bybelgenootskap van Suid-Afrika genooi om by dieselfde geleentheid waar Claassen gepraat het, op Sondag 25 Augustus by die Voortrekkermonument,’n gedenkplaat ter herdenking van dié Bybelvertaling te onthul.

———————————————————————————————————————————————————————————-

GROETEBOODSKAP AAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS

Op 29 Mei 1933 is met groot dankbaarheid feesgevier oor die aankoms van 10 000 Afrikaanse Bybels vanuit Brittanje. Biskop Lavis van die bestuur van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Suid-Afrika, het by die ontvangs van die eerste Bybels van die nuwe vertaling met die aankoms 29 Mei 1933 in die Kaapse hawe, na die vertaling verwys as ’n gawe aan die hele Suid-Afrika.

Die inisiatief vir die vertaling van die hele Bybel in Afrikaans het van die Vrystaatse sinode van 1916 gekom. Die ingebruikneming deur die drie Afrikaanse kerke was dan ook in Bloemfontein op 27 Augustus 1933. Hiermee het die Bybel in Afrikaans formeel die Nederlandse Statenbijbel (1637), wat vir eeue gebruik is, vervang as die amptelike vertaling. Die Bybel in Afrikaans was die 182ste volledige Bybelvertaling in die wêreld.

Die 1933 vertaling het die Bybelse boodskap vir Afrikaanssprekendes verstaanbaar gemaak. Die invloed daarvan het egter veel verder gestrek as die kansel en persoonlike geloof. Dit het ook ‘n impak gehad op die vorming van die identiteit van Afrikaanssprekendes en die vestiging van Afrikaans in die gemeenskap, literatuur en akademie.

Die taal waarin mens aanbid, gee vorm aan jou manier van dink en leef. Dit is byna onmoontlik om die invloed van die Afrikaanse Bybel op die lewensbeskouing, opvoeding, politiek en sosiale lewe van Afrikaanssprekendes te bepaal. Dit het Afrikaanssprekende gelowiges beweeg om na gehoorsaamheid aan God met die hele lewe te soek: in die kerk en in die samelewing.

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans het sy beginpunt gehad in die ideale van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Arnoldus Pannevis het reeds op 7 September 1872 geskryf oor die dringende behoefte aan “De Bijbel in het Afrikaans”. Dit het gegaan oor die fundamentele behoefte van gelowiges om in jou eie taal te kan aanbid, maar dit sou ook statuur gee aan die ontluikende nuwe taal uit eie bodem. Die Bybel in Afrikaans se invloed was inderdaad veel wyer en breër as die kansel en kerktaal. Dit het ‘n reuse invloed op die standaardisering van Afrikaans gehad: op spelling, woordvorme en segswyses.

Oor die wêreld is die Bybel die enkele boek wat die meeste aangehaal word en waaruit idees, metafore en segswyses kom wat spreektaal en letterkunde die meeste beïnvloed. Joan Hambidge die digter vra: “Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie?”, en verder: “Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie”. Die Bybel is ’n broodnodige verwysingsbron vir die begrip van die letterkunde in Afrikaans.

Die Bybel omvat die totaliteit van ons bestaan. Die Bybel is in die eerste plek ’n geloofsboek. In die kern van die Bybel staan God en sy verhouding met die mens. Alles wat hiermee saamhang, is prominent vir die gelowige mens wat die Bybel sien as die bron van sy godsdiens. Andersyds is die Bybel ook die groot bron van alle aspekte van menswees. Daar is geen menslike emosie wat nie verwoord word in die psalms nie. Menslike wysheid word gemeet teen die wysheid van die Wysheidsboeke soos Spreuke en Prediker. Regdeur die Bybel is groot verhale van die mens se weerloosheid en krag, koppigheid en nederigheid, armoede en voorspoed, lyding en vreugde. Verhale van die lewe en die dood.

Die grootste verhaal van almal en die een wat meeste weerklink in letterkunde, in populêre flieks en stories, is die een van selfopoffering en herstel, van dood en opstanding. Dit is die verhaal van Jesus Christus wat die sentrale verhaal in die Bybel is. Dit is die verhaal van hoop en lewe.

Sedert 27 Augustus 1933 het verskeie ander vertalings in Afrikaans die lig gesien. Die Bybel in Afrikaans was altyd ’n onontbeerlike reisgenoot vir Afrikaanssprekende gelowiges en dit sal so bly. ’n Hersiene weergawe verskyn in 1953 en ’n nuwe vertaling in 1983. Tans is daar die vooruitsig om ’n nuwe amptelike vertaling in gebruik te neem.

Aan God al die eer vir die Bybel wat Afrikaans praat! Vir die ongelooflike rykdom wat op 29 Mei 1933 aan die Afrikaanssprekende gelowige uitgedeel is. Daarom wil die NG Kerk ook sy lof en dank bring met die woorde van Ps 104 “Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met lig soos met ‘n kleed, wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek…” Woorde van DF Malherbe by die feesgeleentheid in Bloemfontein 27 Augustus 1933.

Dr GF Claassen

Algemene Sekretaris van die NG Kerk