Emigrasie is nie altyd ‘vlug’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Bly ons of gly ons? Dit is ’n vraag wat al meer in gesprekke opduik. Toe daar onlangs by ’n bekende hoërskool tydens ’n saalopening aan die leerlinge gevra is wie beplan om te emigreer, het meer as twee derdes van die leerlinge hulle hande opgesteek. Groot getalle lidmate van die NGK verlaat reeds die land as deel van ’n stroom sogenaamde tweede generasie emigran­te. Dit is mense wat reeds familie in die buiteland het en wat daar by hulle gaan aansluit. Soos wat omstandighede in die land versleg word die trek-opsie vir al meer lidmate van die NGK ’n wesenlike werklikheid. Wat meer is – om te trek is niks nuuts nie. Dit is in ons gene! Dit is emigrante uit Europa wat die kerk hier gevestig het en dit is emigrante uit die Kaapkolonie wat die kerk die binneland ingedra en daar geplant het. Die NGK het sy ontstaan te danke aan gelowiges wat getrek het omdat omstandighede waarin hulle moes leef onaanvaarbaar geword het.

Die vraag is: Hoe moet die kerk daarop reageer? Uit besluite en verslae van sinodes blyk dit dat die kerk die saak in die verlede nie altyd goed hanteer het nie. Tydens die Groot Trek het die sino­de van 1837 sy sterk afkeur teenoor die Trek uitgespreek. Die migrasie is ver­oor­deel en dit is as ’n daad van verset teen die regering beskryf. Predikante het selfs so ver gegaan as om dit ’n “dwaling” te noem en die Voortrekkers beskryf as mense wat “soos Jona van God af wegvlug!”

Tydens die Algemene Sinode van 1998 is besluit dat: “lidmate erns moet maak met die gereformeerde oortuiging dat gelowiges juis daar waar God hulle geplaas het, hulle roeping moet vervul.” Hierdie besluit is geneem na aanleiding van ’n verslag voor die sinode wat gelui het: “Die Ned Geref Kerk behoort die emigrasie van lidmate wat nie werklik uit noodsaak geskied nie, te ontmoedig.” Wie te gou padgee uit moeilike omstandighede was besig om: “hulle Godgegewe roeping te versaak.”

Is dit regtig so? Miskien is dit nodig dat die kerk deur ’n ander lens na emigrasie kyk. Ja – hier in Suid-Afrika lei dit tot dalende lidmaatgetalle en krim­pende gemeentes. Aan die ander kant dra gelowige lidmate wat emigreer die lig van die evangelie die wye wêreld in. Gemeentes en kerke word letterlik reg­oor die wêreld gestig en geplant.

Die besluit om te trek het die evangelie meer as 300 jaar gelede na die Suid­punt van Afrika gebring. Miskien is die besluit om nou te trek nie die versaking van ’n roeping nie, maar deel van ’n groter plan.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.