Op reis na ’n versoen(en)de werklikheid in Suid-Afrika

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Stefan Malan, leraar van die NG gemeente Empangeni, skryf:

Mag ons nie vasklou aan simbole wat ons weet sommiges se pyn en lyding sal laat herleef nie?

Die totstandkoming van die demokratiese Suid-Afrika na afloop van die historiese verkiesing op 27 April 1994, het daarmee saam die vraag laat ontstaan: In hoe ’n mate kan en behoort geregtigheid te geskied teenoor hulle wat moes lei onder apartheid? Daar was die twee kante van individuele en gemeenskaplike geregtigheid, maar ook die netelige kwessie van watter tipe geregtigheid gepas sou wees. Die vergeldende soort soos die berugte Nürenbergverhore in Duitsland na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, of ’n sambreelamnestie, wat in die praktyk sou neerkom op nasionale vergeetagtigheid en die verdere miskenning van die seer van apartheid se slagoffers?

Deur God se genade was daar prominente, wyse leiers aan beide kante van die politieke spektrum, wat die noodsaaklikheid van ’n derde roete ingesien het, by name die soeke na helende geregtigheid. In opdrag van die nuwe regering is hierdie soeke voor die deur van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) gelê.

Individuele slagoffers kon nie nadat amnestie aan oortreders verleen is, ’n siviele eis om kompensasie vir verliese aanhangig maak nie. Daarom is kompensasie deur die regering aan slegs sowat 20 000 individuele slagoffers van apartheid gedra – as uitvloeisel van die kommissie se werksaamhede. Aangesien dit ekonomies en andersins eenvoudig net nie haalbaar was om vergoeding te bied op gemeenskapsvlak aan elkeen wat op een of ander manier negatief deur apartheid geraak is nie, is die hoop wel deur die WVK uitgespreek dat daar tog maniere gevind sou word – wat soos finansiële vergoeding aan individue simbolies van aard sou wees – om die reikwydte van helende geregtigheid in die land te verbreed.

Desmond Tutu, emeritus-aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk, skryf in sy boek, No future without forgiveness (1999, Doubleday), dat dit die kommissie se hoop was – as so ’n simboliese kompensasie op nasionale vlak – dat strate en skole hernoem sou word na slagoffers van apartheid en dat geriewe soos klinieke, ontspanningsareas en gemeenskapsentrums, tot hulle nagedagtenis opgerig sou word. Monumente moes ook opgerig word. Dit alles moes egter so gebeur dat dit nie weer op hulle beurt verdeel nie, maar insluit. Dit moes ’n hele nasie help om op ’n positiewe manier te onthou. Herinneringstekens en simbole moes die kapasiteit hê om by te dra tot die proses van genesing en versoening. Sulke herinnerings, skryf Tutu, “… would bind us together after so long enduring things that were designed to tear us apart and instil hostility and disharmony.” Dan spreek hy sy hoop uit dat “… we would learn to celebrate occasions and events which have brought us together … when we discovered that we were indeed the rainbow nation.

Aan God alleen is die dank dat ons land nie in aanloop tot en na afloop van die eerste vrye en regverdige demokratiese verkiesing in 1994 ’n ander pad geloop het nie, maar vertrek het (en steeds op pad is), na versoenende, helende geregtigheid vir die meerderheid van mense in ons land wat op een of ander manier benadeel is deur die sistemiese ongeregtigheid van apartheid. Aan Hom die dank vir mense wat met wysheid kon optree in belang van ’n beter, gesamentlike toekoms wat tot voordeel van almal sou strek.

Mag ons vandag steeds, ook as gelowiges, die mandaat opneem om gesprekke aan te knoop, verhoudings te bou, en simbole te vestig wat steeds streef na heling en herstel van die gebrokenes. Mag ons só praat en optree dat ons nie verder seermaak en vervreem deur herinneringe op te diep en vas te klou aan simbole wat ons weet sommiges se pyn en lyding sal laat herleef op ’n manier wat nie ten doel het om daardie seer te genees nie.

Ons het die voorreg om in ’n land te bly wat ’n voorbeeld is vir die res van die wêreld wanneer dit kom by die keuse om te werk vir versoening, herstel en heling. Martin Luther King Jnr het een keer gesê: “Unless we learn to live together as brothers we will die together as fools.” Mag ons mekaar meer en meer so leer sien en die pad na môre met waardigheid en integriteit stap op pad na groter en dieper ontdekkings van lewe wat opgroei uit herstelde verhoudings oor alle moontlike grense heen. Hierdie is ’n besonderse reis. In ’n besonderse land. Met besonderse mense. Aan God die dank.