Om te bly of om te gaan?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Goeie vriende was onlangs by die Nieu-Seelandse ambassade vir visums om hulle kinders te gaan besoek. Toe hulle daar kom, staan die tou tot op die sypaadjie. Gelukkig val hulle nie sommer net agter in nie, maar gaan soek die toonbank om te hoor hoe werk dinge. Dit blyk toe dat daar net drie persone in die tou vir visums staan. Die res was aansoekers vir immigrasie.

Die opsie om te emigreer word vir al meer mense die uitweg uit ’n land waar reuse-probleme elke dag in ons gesigte gevryf word.

Die vraag oor emigrasie is een waaroor ek baie versigtig is om te sê: Dít is wat die Bybel hieroor leer. ’n Mens moet nogal vindingryk met Bybelse tekste omgaan om te kan sê: Die Bybel sê jy moet bly of jy moet gaan.

Wat wel waar is, is dat die Bybel en die geskiedenis ons leer dat Christene dikwels geroep word om na moeilikheid toe te gaan eerder as om daarvan­daan weg te vlug. Dit is in die aard van gestuurde mense om betrokke te raak waar daar oënskynlik nie hoop of lig is nie. In die vroeë kerk was dit een van die belangrike faktore wat die Christendom laat groei het.

Die sosioloog Rodney Stark vertel hoedat die Christene tydens groot epi­demies in die antieke tyd, nie net vir mekaar nie, maar ook vir nie-Christene gesorg het. Die meeste mense het ter wille van hulle eie oorlewing kontak met siekes en sterwendes vermy en uit die stede gevlug as hulle kon. Dit is eg­ter opgeteken hoedat die Christene ba­sie­se verpleging, kos en water gegee en die dooies begrawe het. Die gevolg was dat die God van die Christene vereer is en hulle geloof in aansien gestyg het.

Hierdie is ekstreme verhale maar dit illustreer die basiese houding van die vroeë Christene. Hulle selfopoffering was een van die groot kragte wat die Christendom laat groei het.

Van die ander kant is die vraag of gelowiges dan nie hulle roeping in ’n nuwe land kan uitleef nie. Migrasie was deur die geskiedenis een van die kragte wat die evangelie versprei het. Na die val van Jerusalem in 70 nC het Joodse Christene oor die aarde verspreid geraak en die evangelie saam met hulle geneem. Vervolgings het dieselfde effek gehad.

Die belangrike saak is dat gelowiges ons roeping sal oorweeg wanneer hulle besluit oor bly of emigreer. Veiligheid, gemak en voorspoed kan nie ons enigste oorwegings wees nie. Ons moet ook altyd vra: Waarheen stuur die Here my? Stuur Hy my om in Suider-Afrika sy lig te dra of in ’n ander land? Dit is in die wese van ons gereformeerde geloof dat ons bely: Die plek waar ek woon en werk, is die plek waarheen die Here my roep.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.