Ons is geroep om gasvry te wees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Xenofobie is ’n Griekse woord wat vertaal kan word as ’n vrees vir ’n vreemdeling (buitelander). Vrees vir eie werkgeleentheid, vrees vir veiligheid van vriende en familie, vrees vir die inmeng van kulture en leefstyle. Die reaksie op die vrees in die xenofobiese geval is aanvallend en gewelddadig. In 2008 het die vrees ontwikkel in Gauteng en die Wes-Kaap dat die buitelanders se winkels al hoe meer word. Dertien dood. In 2015 het xenofobie sy kop gewys toe daar gerugte was dat Suid-Afrikaanse besighede in Durban en Gauteng eerder buitelanders aanstel om vir hulle te werk, sodat die besighede nie hoef te bekommer oor vergoedingproteste nie. Die Zoeloekoning het op 16 Maart ’n uitspraak gemaak teen buitelanders, Suid-Afrikaners het hierdie uitspraak gevat as ’n geleentheid om gewelddadig te raak. Veertien dood. September 2019 in Johannesburg begin met ’n taxibestuurder wat doodgeskiet is in die middestad, omdat hy teen ’n Nigeriese dwelmsmokkelaar opgestaan het. Meer as 50 buitelan­ders se winkels en eiendomme afgebrand, twee buitelanders brand saam met hulle winkel. Die nasionale sokkerspan van Zambië kanselleer ’n vrien­dskaplike sokkerwedstryd met Bafana, as gevolg van die xenofobiese aanvalle.

Die reënboognasie van Suid-Afrika bestaan uit mense van Afrika, Asië, Europa, die Karibiese eilande, Latyns- Amerika en Noord-Amerika. Verskeie buitelanders het Suid-Afrika toe gekom vir die hoop op ’n nuwe, beter lewe. Van die buitelanders, veral uit die Kongo, het Suid-Afrika toe gevlug in die hoop om weg te kom van die guerillaweermag. Natuurlik het daar buitelanders hierheen gekom om kwaad te doen, maar definitief nie almal nie. Die lewe van ’n buitelan­der in Suid-Afrika is nie maklik nie, ver­al wanneer die buitelander nie kontakte in Suid-Afrika het nie. ’n Uberbestuurder het vertel dat hy van Zimbabwe af gekom het, hy het al sy geld gespaar sodat hy in Suid-Afrika kan studeer. Toe hy in Suid-Afri­ka gekom het, moet hy aansoek doen vir ’n buitelanders­pas. Hierdie proses het maande geneem en niemand wou hom help nie.

Op die ou end moes hy R20 000 be­taal aan ’n man om hom voor in die ry te kry sodat hy al die regte dokumente kon kry om in Suid-Afrika te mag woon. Korrupsie is nie net ’n bedreiging vir Suid-Afrikaners nie, maar vir elke man, vrou en kind wat in die land woon.

Waar vat ’n mens dan? En waar laat ’n mens gaan? Hoe kan ons as kerk mense in nood help? Moet ons as kerk dan die buitelanders ook help? Hebreërs 13:2 sê: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Ons is juis geroep om met die buitelanders te werk, om gasvry te wees. Ons as kerk het die geleentheid om betrokke te raak by verskillende organisasies soos PEN, MES, ECHO, Gift of the Givers, Grace Aid ens. wat reeds programme het om met die buitelanders te werk. Ons moet net ons hand uitsteek en die geleentheid aanneem. Ons keuse om te kies om gasvry te wees, begin reeds om Suid-Afrika in die regte rigting te draai.

Jana Klut is tans ’n gemeentejaarstudent by NG Andrew Murray in Johannesburg en het in 2018 haar MDiv-skripsie geskryf oor: The reaction of the Dutch Reformed Church of South Africa to xenophobia: An ethical-practical theological analysis.