Ons daaglikse brood

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is vir ons dikwels moeilik om onsself in die skoene van Jesus se eerste volgelinge te plaas. Ons aanvaar meestal dat hulle lewe nes ons s’n was. So verstaan baie mo­der­ne lesers van die Bybel Jesus se uitnodiging dat ons moet bid vir ons daaglikse brood (Luk 11:3) as ’n figuurlike ver­wysing na die oorvloed wat ons elke dag eet. Dat Jesus ons dus vrypas gee om vir oorvloed te bid.

In haar studie oor verlossing in Lukas gee Mija Wi egter ’n insiggewende blik op hoe mense in die tyd van Jesus oor kos gedink het. Sy wys daarop dat brood die meeste mense se stapelvoedsel was saam met olywe en druiwe. Waar ons vandag byna elke dag ’n porsie vleis eet, was dit geensins deel van antieke mense se alledaagse dieet nie. As ’n vetgemaakte kalf geslag is vir ’n spesiale geleentheid soos ’n fees, sou die hele gemeenskap daarvan geëet het (Luk 15:27, 30). Daar was ook geen manier om vleis te verkoel om dit te bewaar nie, en dit moes dus op een slag opgeëet word. Die hoofmaal van elke dag het egter uit brood bestaan. Nie almal het egter dieselfde brood geëet nie. Witbrood, gemaak van die meel van fyn gesifte graan, was net vir die elite be­sko­re. Die armes het garsbrood geëet met ’n laer voe­dingswaarde. Die brood wat daar­van gemaak is, is dikwels neerhalend as swartbrood beskryf omdat dit van on­ge­sifte meel gemaak is. Volgens Open­baring 6:6 was gars egter drie keer goedkoper as koring en was garsbrood dus bekostigbaar vir armes. Dit is daarom opvallend dat die Johannesevangelie eksplisiet meld dat Jesus met sy voedingswonder garsbrode, die kos van die armes, vermeerder het (Joh 6:9, 13). Daar kan dus aanvaar word dat die meeste van sy volgelinge op die garsbroodlyn geleef het.

Vis was net in Galilea volop. Hoender sou net by ’n spesiale ete geëet word. Selfs eiers was skaars en is as ’n lekkerny beskou. So vra ’n kind in Jesus se illustrasie van God se goedheid sy pa in Lukas 11:11-12 vir ’n eier, maar kry hy ’n skerpioen. Selfs ’n bietjie kennis van die alledaagse dieet in die tyd van Jesus kan ons ’n smaak gee van die wêreld waarin Hy geleef het en ons help om sy woorde beter te verstaan.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.