Oor Luther en die huwelik

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dr Nadia Marais doen presies waarteen prof Louis Jonker ons in sy jongste boek (Herinnering & verlange) waarsku, naamlik ’n direkte verbandtrekking tussen die “vertelde tyd” en ons eie werklikheid. So word die Hervormer Martin Luther se woorde deur Marais se eie ideologiese posisie gekaap en laat sy die kerkhervormer buikspreek om haar eie vooropgestelde opinie oor die huwelik aan die hedendaagse konteks en die kerklike publiek oor te dra.

Die probleem met Marais se opiniestuk oor die huwelik, wat as instelling moontlik ’n geheime sakrament in die NG Kerk geword het, begin reeds by ’n verkeerde vertaling en kontekslose interpretasie van die oorspronklike teks. Sy vertaal Luther se openingswoorde in sy Traktaat oor die huwelik van 1522 verkeerd en dit skep ongelukkig die indruk dat haar eie relativering van die huwelik vir vandag se tyd in ooreenstemming sal wees met wat Luther in sy latere lewe oor die huwelik te sê gehad het.

Volgens Marais sou Luther gesê het: “Hoe sien ek nie op daarteen om oor die huwelik te preek nie.” Maar dit is nie wat Luther in sy Von ehelichen Leben (1522) ter aanvang geskryf het nie. Korrek uit die Duits in Afrikaans vertaal, staan daar: “Ek is bang en ek preek nie graag oor die egtelike lewe nie, daarom, terwyl ek vrees: waar ek dit eenmaal regtig aanroer, word daar aan my en aan ander baie werk gegee.”

Die konteks waarbinne Luther sy woorde uiter is ook heel anders as wat Marais wil hê dit moet wees. So werk sy met ’n teks buite konteks en volg sy die weg van ’n kontekslose interpretasie – juis dit waarteen Jonker ons waarsku.

Lees ook: DIE HUWELIK – GEHEIME SAKRAMENT?

Luther gee in sy inleiding self aan ons die konteks vir sy preek oor die huwelik, naamlik die skandelike verwarring wat deur die pouslike wet veroorsaak is en die nalatige handhawing van die geestelike en wêreldlike swaardmag wat aaklige misbruike en foutiewe sake tot gevolg het. Indien Marais, soos Jonker voorstel, die analogiese model van interpretasie gebruik het en erns gemaak het met die seggingskrag van Luther se woorde in hulle konteks van oorsprong, sou sy by presies die teenoorgestelde beskouing oor die huwelik in die hedendaagse konteks uitgekom het.

Dit is opvallend dat Marais die drie hoofpunte van Luther se preek oor die huwelik verswyg het. Dit is juis die dinge wat sy nie self oor die huwelik wil hoor nie. Dit verswak haar eie ideologiese posisie as dit by die huwelik in die huidige Suid-Afrikaanse konteks kom. Wat is, opgesom, Luther se drie hoofpunte oor die huwelik:

  • Volgens Genesis 1 het God die mens in twee dele (zwei Teile) geskep: man en vrou, of hy en sy. God was so gelukkig hiermee dat Hy dit self ’n goeie skeppingswerk genoem het. Ons moet elkeen die liggaam aanvaar wat God aan ons gegee het – ’n man kan homself nie ’n vrou maak nie, en ’n vrou kan haarself nie ’n man maak nie. God wil hê dat ons sy goeie skeppingswerk moet eer en nie verag nie. Dit is nie ’n man of vrou se vrye keuse of besluit nie, maar ’n natuurlike en noodsaaklike ding, dat ’n man ’n vrou moet hê en ’n vrou ’n man. God beveel niemand om ’n man of ’n vrou te wees nie. Hy het ons geskep om man of vrou te wees. God beveel nie die mens om te vermeerder nie. Hy het ons geskep sodat ons vermeerder. Waar die mens ook poog om dit te weerstaan, het dit ontug, owerspel en geheime sondes tot gevolg. Ingevolge God se skeppingsordening is daar drie uitsonderings, soos Matteus 19 dit uitspel: eunugs wat so gebore word, eunugs wat deur mense so gemaak is en eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Diegene wat nie in een van hierdie drie groepe val nie, kan niks anders oorweeg as die huwelik nie – anders kan jy nie regverdig bly nie; dit is onmoontlik.
  • Daar is drie, moontlik vier gronde vir egskeiding: waar iemand weens liggaamlike of natuurlike gebreke nie gemaak is vir die huwelik nie; waar egbreuk gepleeg is; waar die een die ander huweliksregte ontneem; waar man en vrou weens ondraaglike wangedrag nie met mekaar oor die weg kan kom nie, waarna man en vrou ongetroud moet bly of weer moet versoen.
  • Die huwelik mag nie deur die mens in onguns gebring word nie. Daar is diegene wat weens hulle eie onvermoë of mislukking ander ontmoedig om in die huwelik te tree – wat aan hulle kinders gemaksrus vir die liggaam en hel vir die siel aanbied deur hulle priesters of nonne te laat word. Diegene wat die huwelik erken is hulle wat ferm daarin glo dat God self die huwelik ingestel het, man en vrou daarvoor bymekaar bring en dit verorden het dat hulle kinders sal voortbring vir wie hulle moet sorg. Die huwelik dra nie net by tot die voordeel van liggaam, eer en siel van ’n individu nie, maar ook tot die voordeel van die stad en die land as geheel. Dit hou die oordeel van God weg. Wie weier om te trou, moet in immoraliteit verval. Slegs met spesiale genade kan iemand ongetroud bly. Wat die huwelik die moeite werd maak, is dat God aan huweliksgenote kinders gee wat grootgemaak word om Hom te aanbid en te dien. Die huwelik is God se werk en Hy beskerm die huwelik.

Marais se a-historiese en kontekslose interpretasie van Luther se sakraments- en huweliksbeskouing bring haar verkeerdelik daarby uit dat die huwelik nie heilig is en nie deur God ingestel is nie. Prof Johan Buitendag, wat ’n kenner van Luther se teologie is, het in ’n artikel in Hervormde Teologiese Studies 63(2) 2007 die volgende samevatting gegee: “Marriage, according to Martin Luther, is an institution both secular and sacred. It is secular because it is an order of this earthly life. But its institution goes back to the beginning of the human race and that makes marriage sacred, a divine and holy order. It does not – like the sacraments – nourish and strengthen faith or prepare people for the life to come; but it is a secular order in which people can prove faith and love, even though they are apt to fail without the help of the Word and the sacraments.”

3 thoughts on “Oor Luther en die huwelik

  1. Anli Theron says:

    Dankie Johann. Baie duidelik uiteengesit.

  2. Kerkbode says:

    Geagte leser,
    Hier moedig ons oop, respekvolle en opbouende gesprek aan.
    Ons blok kommentaar volgens die volgende riglyne:

    * Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
    * Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
    * Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
    *Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.

    Die uitnodiging is om meer lig as hitte na die gesprek te bring. – Red.

  3. Johann says:

    Identiteit lê by die mense se menswees, nie by die moontlikhede van die mens se seksuele uitinge nie. Die mens is geskape as ‘n seksuele wese. Die mens kan dus seksualiteit in baie vorme en in verskeie ruimtes opsigself of in verband met ander mense en selfs ander skepsels beoefen. Daar is egter, soos die Bybel ons spesifiek en in die geheelboodskap leer, grense gestel in die uitlewing van menslike seksualiteit – die vele ruimtes is afgekamp om slegs binne die huwelik te wees en dan net tussen man en vrou. Dit kan nie onmenswaardig wees om vir ‘n paartjie wat byvoorbeeld saamwoon te sê dat die Here dit nie so bedoel het nie – dit kan nie ‘n aantasting van saamblyers se menswees wees, as die kerk sou sê dat dit nie in ooreenstemming met God se wil vir ons lewe is dat twee mense so buite die huwelik saamleef nie. As God dan in sy Woord vir ons die grense getrek en en Jesus nie een daarvan opgehef het as dit by die uitlewing van seksualiteit kom nie, is ons as mense, sonder of met behoorlike en voldoende Skrifstudie, nie by magte om dit op te hef of te ontken nie. Hoe die mens en medemens die beperlinge wat God ons opgelê het ervaar of beleef, of daarop reageer as die Kerk God se wil en voorskrif aan lidmate bekend maak, is nie die hart van die saak nie. Dit sal verkeerd wees om ander op grond daarvan onder emosionele en teologiese druk te plaas en hulle selfs af te pers. Liefde en gehoorsaamheid loop saam. Waarheid en werklikheid moet versoen word. Dit is ‘n valsheid om woorde in Jesus se mond te plaas wat hy nooit geuiter het nie en om dade aan Hom toe te skryf waartoe Hy nooit oorgegaan het nie. Jesus het nie ruimte gemaak vir die beoefening van seksualiteit, in watter vorm ook al, buite die huwelik nie. Wie dit in sy woorde of optrede inlees, gaan bedrieglik met die waarheid om.

Comments are closed.