Oor ‘uitreik-gawes’ en ander rolle

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die afgelope klompie weke het ek ’n interessante spanning beleef. Terwyl daar landswyd openbare verset was teen geweld teenoor vroue en kinders, het ons kleingroep op Woensdagaande gesels oor hoe om jou geloof te deel. In tradisionele kerklike taal: oor evangelisasie. Aan die een kant was die groot openbare gesprek oor sistemiese probleme in die land, oor onreg. Aan die ander kant die klein persoonlike gesprek oor hoe om met mense te praat wat nie die Here ken of dien nie.

Die spanning tussen hierdie twee fokusse is ’n ou een: sosiale geregtigheid teenoor persoonlike verlossing. Hierdie spanning verdeel Christene dikwels in twee kampe: die evangeliese groep wat klem lê op persoonlike bekering en jou verhouding met die Here teenoor die bevrydingsgroep wat protesteer teen sisteme wat sosiale onreg in stand hou. Verlossing van persoonlike sonde teenoor bevryding van sistemiese sonde.

In die NG Kerk bestaan hierdie verdeling ook. Uit die apartheidsjare het die stemme teen die sistemiese sonde van apartheid dikwels gestaan teenoor diegene wat gesê het die kerk se werk is om die evangelie van verlossing te verkondig. Vandag is hierdie twee stemme steeds duidelik hoorbaar en ongelukkig plaas mense mekaar hieroor in kampe. Die vraag is egter of dit ’n geldige konflik is: mag hierdie as twee strome teenoor mekaar bestaan?

Dit lyk nie of Jesus dit as ’n spanning beleef het nie. Die evangelies vertel in die een verhaal hoe Hy sê: “Jou geloof het jou gered” en in die volgende verhaal vat Hy die maghebbers aan oor hoe hulle onreg in stand hou. Gestuurde mense wat in Jesus se voetspore loop, kan eenvoudig nie kies vir die een of die ander nie.

Wanneer Paulus skryf oor die gawes wat die Here gee om die kerk op te bou, noem hy apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Die eerste drie is die groot “uitreik-gawes”. En dit is duidelik: evangeliste én profete is noodsaaklik. Dit dien geen doel om die een of die ander se belangrikheid te ontken nie. Volgens ons gawes vind mense hulle meer tuis by die persoonlike of die sistemiese fokus, maar dit is eenvoudig hoe die liggaam van Christus aanmekaarsit. Ons is bedoel om mekaar aan te vul.

Daar is ’n storietjie hieroor: in ’n kerk langs ’n rivier het die gelowiges opgemerk hoe daar drenkelinge in die rivier afkom, mense wat vir hulle lewe klou aan enigiets wat dryf. Natuurlik het hulle onmiddellik begin om die mense te red. Die mense wat gered is was baie dankbaar en baie het deel van die gemeente geword. Toe die stroom drenkelinge egter aanhou, was daar mense wat begin sê het: “Ons moet gaan uitvind wie gooi hierdie mense in die rivier.” En terwyl sommige aanhou om drenkelinge te red, het ander begin werk aan die oorsake wat mense in die rivier laat beland het.