Dit is 1 298 woorde wat al vir meer as drie dekades ’n rol in die geloofslewe van duisende kerklidmate in Suid-Afrika speel en deesdae selfs in dele van die VSA en Europa bely word.
En met die jaarlikse viering van die Belydenis van Belhar was daar op 26 September ’n mengsel van opvoedingstaak, danksegging en spyt te bespeur in die einste aanbiddingsplek waar die dokument 33 jaar gelede as belydenisskrif aanvaar is deur wat vandag as die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) bekendstaan.
- Opvoeding van ’n nuwe geslag VGK-lidmate. Tieners wat van so ver as Kommagas in die Noord-Kaap per bus gekom het om die erediens by die VGK SA Gestig in Belhar op die Kaapse Vlakte by te woon en te leer wat “Belhar” is en beteken vir hulle Christenskap.
- Danksegging deur mense soos Naomi Fass. Dié 90-jarige lidmaat van dié gemeente kan nog goed onthou toe die belydenis tot stand gekom en aanvaar is as verruiming van die belydenisgrondslag van hierdie susterkerk van die NG Kerk.
- Spyt soos bewoord deur die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, ds Nelis Janse van Rensburg, wat tydens ’n kort spreekbeurt by die geleentheid gesê het: “Van ’n persoonlike hoek berou ek steeds die feit dat (die NG Kerk) nie die belydenis aanvaar het nie … Ons bid nog vir die dag wat die hele NG Kerk sal verenig en sê: ‘Ons aanvaar hierdie geskenk van God aan die wêreld.’ Dit is die mees outentieke getuie tot die evangelie wat geregtigheid en versoening betref,” het Janse van Rensburg gesê.
Meer as 250 mense het die dankseggingsdiens #BELHAR33 bygewoon en, onder leiding van prof Mary-Anne Plaatjies Van Huffel, is daar met sang en gemeentebydraes teruggedink aan ’n era sonder Hashtags maar volop protes – Suid-Afrika in die 1980s.
Belhar is vir sommige Christene in die NG Kerk te tydsgebonde, polities selfs. Is dit stok of staf? het wyle prof Russel Botman al in 2009 gevra toe daar oor die kwessie gestoei is en die kompleksiteit van die debat in veral die NG Kerk daaroor ooglopend geraak het. “A stick belonging to the opposition, or a staff of the Shepherd,” het hy die vraag in sy voorwoord tot die boek Good news to confess uitgestip. “As I come to know the upcoming generation better, I have no doubt that Belhar will be a staff for them.”
Ander, soos prof Johan van Rensburg, meen dat Belhar se boodskap “belangrik” is, maar dat daar “grondige redes is waarom dit nie ’n belydenisskrif behoort te wees nie.”
- Lees die volledige belydenis by hierdie artikel by www.kerkbode.co.za
