Ons huis is aan die brand!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is skemeraand in Skukuza in die Krugerwildtuin. Skielik word die lag van ’n hiëna uitgedoof deur die gedreun van ’n helikopter. Dit is die anti-stropingspan wat vertrek. Nog ’n renoster is dood – nog een vir die statistiek. Volgens Die Laevelder is reeds meer as 150 in 2019 in die Krugerwildtuin gestroop.

Bogenoemde gebeure is waarskynlik ’n druppel in die emmer van die reu­se­ekologiese ramp waarop die aarde af­stuur. Dit word onderstreep deur die woorde van Bill McKibben wanneer hy sê: “Ons huis is aan die brand.” Die mens is besig om die aarde teen ’n verstommende tempo te verwoes. ’n Ver­klaring van Greenpeace lig die gevolge van die gebeure verder toe: Die aarde verkeer in ’n noodtoestand – en dit is ’n feit wat elkeen van ons raak. “Ons kan nie menseregte op ’n dooie planeet hê nie.”

Terwyl daar wêreldwyd op hierdie groter wordende krisis gefokus word, is die onwillekeurige vraag: Watter rol speel kerke, en met name die NGK? Die eerste tree op pad na ’n antwoord is te vind in van die besluite wat die Algemene Sinode reeds in 2013 geneem het toe die sinode ’n dokument met die titel “Ter wille van ons aarde en haar bewo­ners” as raamwerkdokument aanvaar het. Die sinode het lidmate, gemeentes, ringe en sinodes onder meer aangemoedig om ’n leefwyse van eenvoud wat minder druk op die omgewing plaas, te omhels. Daar is ook besluit om gemeentes aan te moedig om temas rond­om die omgewing en leefstylverande­ring deel te maak van die liturgie, kategese en ander vorme van gemeen­te­wees. Gedurende die Algemene Sinode van 2015 is besluit om lidmate, gemeentes, ringe en sinodes aan te moedig om ’n profetiese stem te laat hoor waar die welwese van God se huishou­ding in gedrang kom en om in gesprek te tree met ander geloofsgroeperinge en nie-kerklike organisasies rakende die saak van ekologie.

Alhoewel daar min fout gevind kan word met genoemde besluite is die toets natuurlik dit wat op grondvlak in gemeentes gebeur. Die afgelope weke is daar wêreldwyd op die saak gefokus. In Suid-Afrika het vreedsame betogings in al die groot sentra plaasgevind. Dit het egter in die kerk min aandag gekry. Terwyl daar oor teologiese opleiding gedebateer word en met reg uitsprake en verklarings oor vreemdelingehaat en geslagsgeweld gemaak word, staan een feit soos ’n paal bo water: Daar is nie sprake van menseregte op ’n dooie planeet nie!

In ’n land waar die lug en water op groot skaal besoedel word en waar die­re­spesies uitgeroei word sien ons die huis brand! Goeie sinodebesluite gaan die brand nie blus nie. Dit vra meer. Wie weet wat die Algemene Sinode van 2019 gaan doen?

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.