Sonde, sondaars en ons onderlinge verbintenisse

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

My indruk is dat daar oor die millennia heen talle spreuke of gesegdes in ons geloof ingesluip het, waarvan óf die oorsprong ten beste nié in die Bybel lê nie, of ten slegste gelowiges eerder op ’n dwaalspoor lei as op die weg van die Here hou. ’n Voorbeeld hiervan vind ons in die oproep wat daar dikwels tot Christene gemaak word om “die sondaar lief te hê, maar die sonde te haat”.

Ek het iewers gelees dat die vermoede bestaan dat die uitdrukking na aanleiding van iets wat die bekende kerkvader Augustinus sou geskryf het, pos­gevat het. Of dit wel so is, kan ek nie met seker­heid sê nie. Nietemin, die storie lui dat hy in een van sy briewe gelowiges sou oproep tot “a love for mankind and a hatred of sins”. Hieruit, so lei die me­ning, het die gesegde ontwikkel dat ons “die sondaar moet liefhê, maar die sonde moet haat”.

Op die klank af klink dié geykte sêding reg. Maar strook dit met die Ou-Testamentiese getuienis oor onderlinge verhoudings tussen mense en gelowiges se ingesteldheid betreffende sonde?

In die destydse wêreld het “liefde” nie in die eerste plek met emosie te doen gehad nie, maar het dit in beson­der gegaan oor mense se lojale ver­bin­tenis aan mekaar, ongeag hoe hulle op ’n gegewe moment oor mekaar voel. Die Ou Testament roep ons inderdaad op om in lojale verbintenis aan alle mense te leef, want die God van Israel is Here van alle volke, tale en nasies. Die Here het sigself aan ons verbind (het ons lief) en daarom moet ons in lojale verbintenis aan mekaar leef (mekaar liefhê).

In die destydse wêreld het “haat” eweneens minder met emosie te doen ge­had en meer met ’n gebrek aan verbintenis, of met ’n losmaak van iets of iemand. Omrede God ons lief het (sigself aan ons verbind het), leef ons in liefde (leef ons in verbondenheid) met alle mense, terwyl ons ons losmaak van die sonde (die sonde haat).

So gestel, val die aksent tog anders as by die geykte cliché om “die sondaar lief te hê, maar die sonde te haat”. Die geykte uitdrukking veronderstel oordeel oor die ander. Die herformulering hier bo, laat die klem val op my verbintenis met alle mense, terwyl ek my losmaak van (my eie) sonde.

Die bekende Mahatma Gandhi sou by geleentheid gesê het: “Hate the sin and not the sinner is a precept which, though easy enough to understand, is rarely practiced, and that is why the poison of hatred spreads in the world.” Die feit is dat ons, omrede ons nie die geykte cliché se “gesag” of werklike im­pli­kasies bevraagteken nie, in praktyk steeds meer fokus op die (ander se) sonde en die identifisering van iemand anders as ’n sondaar. Dit terwyl die Ou Testament getuig dat die fokus behoort te val op God se verbintenis aan ons (liefde vir ons) en ons liefde vir mekaar (onderlinge verbintenis).

Wat wel in die Ou Testament staan is: “Jy mag nie haat jou broer in jou hart nie; om te berispe berispe jy jou in-groep; en moenie laai oor hom op jou sonde nie” (Lev 19:17 A53)”. Volgens dié vers (wat ek direk vertaal het) mag ons ons onder geen omstandighede van ons medemens losmaak nie. Ons het wel die verantwoordelikheid om mekaar te berispe; én ons moenie oor wat ’n ander mens doen, self in die strik van sonde trap nie. Dit is dus baie duidelik – die fokus is op mense se onderlinge verbintenis aan mekaar en die wegbly van sonde in jou eie lewe. Ongelukkig fo­kus ons al te graag op die sonde van die ander en ondermyn ons die onderlinge verbintenis aan mekaar.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.