‘Sinode verstrik in eie verwarring’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Chris Saayman van Tafelberg Gemeente skryf: My ervaring van die Algemene Sinode se besluit oor homoseksuele praktyke was dat die Sinode in sy eie verwarring verstrik geraak het. Die Sinode het besluit dat – volgens die Skrif – ’n huwelik slegs tussen een man en een vrou is (oorgeneem uit 2007 besluit). Terselftertyd keur die Sinode burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag goed (wat dus nie ’n huwelik is nie en dus onbybels is). Verder keur die Sinode alle heteroseksuele en homoseksuele onsedelikheid en promiskuïteit af (oorgeneem uit 2007 besluit). Omdat burgerlike verbintenisse egter nie ’n huwelik is nie, is die seksuele bedrywighede binne sulke verbintenisse (wat die Sinode goedkeur) dus gelyk aan promiskuïteit (wat die Sinode afkeur). Want die Griekse woord “porneia” wat in die Nuwe Testament met “onsedelikheid” vertaal word, beteken alle seksuele praktyke buite die huwelik tussen een man en een vrou (Louw & Nida). Dieselfde woord porneia (en soms die sinonieme werkwoord porneuo en ekporneuo) word bv gebruik in 1 Kor 6:18 vir prostitusie, in 1 Tess 4:3 vir buite-egtelike seks, in Judas 7 vir homoseks en in 1 Kor 5:1 vir bloedskande. Lidmate wat in burgerlike verbintenisse is, bedryf dus promiskuïteit en oortree die Sinodebesluit en is tugwaardig – terwyl hulle tegelyk ook volgens dieselfde Sinodebesluit reg doen deur in ’n burgerlike verbintenis te wees en nie tugwaardig is nie! So moedig die kerk in sy eie verwarring mense aan om promiskuïteit te bedryf – terwyl hulle dit afkeur, keur hulle dit goed. Lidmate en predikante wat in burgerlike verbintenisse saamleef, leef dus in tugwaardige sonde (in lyn met die kerk se eie besluit). Sal die kerk teen hulle optree? Nee hulle sal nie (in lyn met die kerk se eie besluit!) Dit is wat gebeur wanneer ’n kerk die pad van die Skrif verlaat. So ’n kerk moet in sy eie verwarring uit twee monde praat om almal gelukkig te hou. Terwyl God se Woord nooit uit twee monde praat nie en allermins verward is in sy duidelike leer.