Die storie van die vreemde vrou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die storie van die vreemde vrou

Een dag nie lank gelede nie,  het ’n man en sy vrou vir ’n week  in ’n baie mooi plattelandse dorp tussen wingerde en vrugtebome, gaan vakansie hou. Omdat hulle albei in klein dorpies grootgeword het, het hulle sterk terugverlang  na die platteland en graag daar gaan kuier. Hulle het die Sondagoggend die kerkdiens in die pragtige ou kerk  in die Hoofstraat bygewoon en tuis gevoel in die atmosfeer van ’n ou dorpskerk. Tydens die afkondigings het die  dominee mense vriendelik uitgenooi na die kunsloop wat die volgende oggend sou plaasvind. ’n Groep mense wat in kuns belangstel gaan saam deur die dorp stap en by die verskillende kunstenaars aandoen om  hulle te ontmoet en na hul werk te kyk. Omdat die vrou in kuns belangstel en graag die kunstenaars van die dorp wou leer ken, het sy besluit om dit saam met die ander dorpenaars te doen. Die Maandagoggend was sy  opgewonde, betyds en reg vir die kunsloop.

’n Groep  vroue, min of meer  haar ouderdom, was ook reg vir die uitstappie en die vrou  het met binnepret opgemerk dat sy, sonder enige voorkennis, byna net soos hulle aangetrek was in ‘n blou denim, swart baadjie en ‘n blou serp. Die organiseerder van die groep vroue was opvallend vies om die vreemde vrou te sien nie  en het voor almal die predikant sterk aangespreek omdat hy “ ander mense” op die uitstappie saamgenooi het. Die vreemde vrou was uit die veld geslaan, maar net te nuuskierig om om te draai en het besluit om haar nie deur die koue ontvangs te laat afskrik nie en tog saam te stap. Sy het haar ongemak met die koue reaksie op haar daarwees met ’n glimlag  weggesteek en by die groep ingeval.

Die eerste stop was by die  gesellige huis van ’n vrolike  kunstenares, wie se gees net so groot en  soos haar huis is. Sy het die vreemde vrou dadelik laat tuis voel  in haar interessante, kleurvolle huis oorlopens toe vol van haar kunswerke. Die vreemde vrou het  die kunstenares se oorvloedmentaliteit aangevoel en weer moed geskep omdat die vrou haar kennis, tyd en talente graag, gratis  en sonder voorbehoud met ander deel. Die groep het nog ‘n paar kunstenaars besoek en toe verder gestap tot by ’n kunswinkel waar hulle die oggend sou afsluit met tee en koek. Hier het  twee van die dames van die groep die predikant openlik voor almal betig, omdat hy ’n vreemdeling tussen hulle toegelaat het. Die groep vroue was byna soos ’n bende wat geen indringers duld nie. Die vreemde vrou het toe met die verboureerde predikant gaan gesels en vir hom gesê  dat dit vir haar lyk asof sy ouer, vroulike gemeentelede hom Sondag nie mooi gehoor nie of nie werklik geluister na wat hy gesê het nie. Na ’n kort lesing oor verskillende kunsvorme het die vreemde vrou besluit om vinnig te gaan, voordat die dames begin teedrink en koek eet, want haar glimlag het  begin dun geword.

Sy  het by haar man aangesluit waar hy  in ’n koffiewinkel gesit het en die vreemde ervaring van  uitgesluiting met hom gedeel. En terwyl sy praat het die ironie van die situasie regop voor haar kom staan. Sy  is nie alleen van dieselfde geslag, ras en ouderdom as die ander vroue nie, maar hulle praat ook dieselfde taal en deel dieselfde belangstellings. Die vorige oggend het die meeste van die vroue saam met  haar in die kerk gesit en na dieselfde diens geluister oor  genade en naasteliefde en omgee. Die vrou wou probeer sin maak van die vreemde oggend deur daaroor te praat  en het met haar man gesels oor haar belewing van die skaarsheidsmentaliteit van die groep vroue, wat opgetree het  asof daar van al die goeie dinge van die oggend minder sou wees vir hulle as iemand van buite ook daarvan sou geniet. Was hulle  dalk bang dat sy hulle eetgoed sou eet en daar dan nie genoeg vir hulle sou wees nie? Sy was bly oor die kunstenares met die gasvrye gees en oorvloedmentaliteit  wat so in kontras met die groep opgetree het. Sy was jammer vir die predikant wat sekerlik al dikwels vir sy gemeente gepreek het oor omgee en gasvryheid teenoor ander, maar dan  voor stok gekry word, wanneer hy dit self leef.

Maar op ’n veel dieper vlak  was sy bekommerd en ontsteld oor ons wye en droewe  land, want sy het besef dat as ons so sukkel om iemand wat soveel met ons in gemeen het, vir ’n oggend  in ons kring toe te laat, hoe gaan ons dit regkry om oor taal en kleurgrens met “die vreemde ander” kontak te maak en verhoudings te bou en  saam ‘n nuwe toekoms te skep? En terwyl hy na haar luister, sien die vreemde vrou se man hoe daar trane op sy koerant val.

  •  Jeanette de Klerk-Luttig werk by die Kantoor vir Morele Leierskap, Universiteit Stellenbosch