Dis die droogste droogte dié

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Net buite Brandvlei staan twee lorries in die oopte langs die pad. Die een lyk of dit ’n Bedford kon gewees het voor dit in ’n mobiele boormasjien verander is. Die ander een is ’n negentien-voertsek Thames Trader. Ek hou daar stil.

Dit is vroegoggend en uit die grond slaan ’n koeligheidjie op. Eenkant is ’n Jurgens-woonwa uit die jare tagtig. Nie ’n wolk in die lug nie.

Uit die Jurgens se koers kom ’n man gestap. Koos van Zyl, boorman van be­roep. Hy en twee handlangers is op pad die Boesmanlandse ooptes in om iewers op ’n plaas vir water te gaan boor. Hulle het hier oornag. Ek is op pad die binneland in.

Hulle sê ’n hond en sy eienaar begin met die jare al hoe meer na mekaar lyk. ’n Boorman soos Koos van Zyl begin weer met die jare al hoe meer soos sy boormasjien lyk. Koos is die ene olie en suieragtige voorarms en are op die hande.

Die gesprek draai byna dadelik na die droogte wat nou al vir hoeveel jaar ook hierdie omtes teister. Calvinia en Su­ther­land se kant toe, Kenhardt se kant toe, Williston se kant toe.

Party hier rond sê dis die droogste droogte wat hulle nog beleef het.

“Dit is besig om die boere te breek.” Koos kyk die verte in waar die son oor die horison wil-wil kom. “Jy raak verby moedeloos, jy wil sommer huil. Jy kom by ’n boer, dan is sy ou watertjie te swak om sy dam vol te maak. Maar hy moet boer, hy moet aangaan.”

Daar is vir my iets Bybels, iets Ou- Testamenties, aan ’n boorman soos Koos: Hoe hy deur die dor woestyn trek om vir mens en dier water – lewe – te probeer kry waar daar nie water is nie terwyl die son hom bedags steek en hy snags met ’n onrustige hart in sy woonwa by sy boormasjien slaap. ’n Missio­naris in ’n vuil, blou Johnston-oorpak.

“Dan boor jy vir daardie boer vyf, ses gate, en al daai gate is droog.” Koos kyk af grond toe en sê dit asof hy dit vir sy voos velskoene sê. “Daai boer moet daai gate betaal, ek kan nie daai gate vir hom verniet gee nie. Dis die hartseer saak.”

Party boere laat kom ’n geoloog of een of ander kundige om op ’n wetenskaplike manier water aan te wys. Koos wys ook water aan, mits die boer daarvoor vra.

Hy gaan haal twee stukke bloudraad uit die Thames en beduie hoe dit werk. Elke stuk draad se punt is in ’n winkelhaak gebuig. Hy neem een in elke hand en begin oor die dorheid daarmee te stap, stadig, sy voorarms voor hom uit­ge­strek. Later begin die drade se punte na mekaar toe beweeg, asof vanself, totdat die punte aan mekaar raak.

“Hier loop die aar.” Koos trek ’n streep met sy voet oor die grond.

Hoeveel water sal hy kry as hy nou hier moet boor? Hy weet nie.

Om ’n boorman te wees, is om in ’n voortdurende stryd met die onsienlike te wees.

Om só ’n droogte te beleef, raak ook vir sommige van dié wat dit van naby beleef ’n soort geding met God. Dit het ek reeds as kind op Daniëlskuil in só ’n droogte woordloos besef. Pa en die ander ooms wat dag na dag hoopvol na die kleinste dingetjies in die natuur kyk, asof hulle wil sê, kyk, God het nie van ons vergeet nie, kyk die miere werskaf, en die driedorings blom, en die naguil­tjie roep. Dit gaan kom reën. Een of ander tyd.

O, en daardie nederige, smekende gebede op bidure en biddae vir reën.

Die prediker, Angus Buchan, het in Julie ’n gebedsbyeenkoms op Williston, so 200 km hiervandaan, kom lei. In ’n ligte vliegtuig het Buchan uit die lug op die dorp neergedaal, met sy cowboy-hoed in ’n streek waar die boere tiervellose tiervelhoede en kêpse dra. ’n Engel­se gewese aartappelboer in Afri­kaanse skaapwêreld, wat oënskynlik glo ’n droog­te het iets met sonde te doen.

Asof Koos van Zyl en honderde, dui­sende, ander soos hy, godvresende, eerlike Boesmanlanders, nie weet hoe om te bid nie, te glo en te hoop nie.

“Baie keer praat ek op na God toe.” Koos beduie met ’n oliebesmeerde vin­ger boontoe. “God is die enigste mens wat jou kan help, maar jy moet onthou God gaan hom nie vir jou nόứ gee nie. Hy gaan daai water vir jou vorentoe gee. Die Bybel sê: Hy toets jou eers.

“Soms voel dit of Hy met jou mors. Die wolke sal kom, hulle sal kom – doer ver sal ’n buitjie uitsak. Maar hier waar jy is, niks.”

Buchan is gou weer in die vliegtuigie weg, vaal klippe onder hom, en die reën het nog nie gekom nie.

Die son is nou agter die horison uit, verblindend, en die koeligheidjie wat uit die grond opgeslaan het, is weg. Die weervoorspelling oor die TV het gisteraand gewys dit gaan vandag 36 grade hier rond word.

“Oe, as jy daai water gekry het, daai tyd hardloop jy sommer in die rondte van blygeid.” Koos glimlag effentjies. “Jy voel soos ’n kind wie se pa vir hom ’n swiet gegee, en gesê het: ‘Hier, my kind, dé, dis joune’.”

Hy kyk op sy horlosie. “Ons sal moet begin beweeg. Ek wil my boor vanmiddag in die grond hê.”