Om op God, nie ridders te vertrou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In haar studie Toward a postcolonial reading of the Epistle of James wys Ingeborg Mongstad-Kvammen op die radikale implikasies van die evangelie vir gelowiges in die wêreld waarin dit ontstaan het. In Jakobus 2 word vertel hoedat twee persone by die samekoms van die gelowiges aansluit. Die een het ’n goue ring en wit klere aan, terwyl die ander ’n arm man met vuil klere is. Die spontane reaksie van die gemeente op hulle besoek is om aan hulle verskillende sitplekke aan te wys volgens die heersende sosiale norme van die eerste-eeuse Romeinse Ryk.

Die ryk man was volgens die goue ring en wit klere wat hy aangehad het waarskynlik ’n lid van die ridderorde, die tweede belangrikste politieke orde in die Romeinse Ryk. Volgens wet moes daar aan hom ’n ereplek gegee word in enige openbare byeenkoms. Daarom is daar in teaters en etes spe­siale plekke vir hulle ingeruim. In die sosiale hiërargie van die Romeinse Ryk was die armes weer heel onder in die piramide. Die tweede besoeker word beskryf as dat hy een van diegene was wat geen inkomste gehad het nie en daarom volledig aan die genade van ander oorgelaat is.

Die leiers van die samekoms van gelowiges tree dus “korrek” op volgens Romeinse etiket. Hulle gee aan die ridder hulle eervolste sitplek, terwyl die bedelaar óf moet staan óf onder ’n voetbank sit.

Volgens Christelike etiket is dit egter fundamenteel verkeerd volgens Jesus om só met mense om te gaan (Matt 23:6). Terwyl Jesus spesifiek die Jode aangespreek het oor hulle soeke na ereposisies, spreek die skrywer van Jakobus gemeentes aan wat die Ro­meine se soeke na eer eerbiedig en wat mense op hulle voorkoms oordeel. Die navolging van die heersende waar­des van die Romeinse Ryk was egter nie net bloot verkeerd omdat die kultuur van Christene daarvan verskil het of omdat dit mense verneder het nie. Dit was verkeerd omdat die navol­ging daarvan daarop gedui het dat hulle diepste vertroue eerder op diegene in die Romeinse Ryk met invloed was, as op God.

Hulle optrede het ontbloot op wie hulle ten diepste vertrou: aardse mag­hebbers met invloed en nie God nie. Om teen heersende waardes te handel, en so die ondersteuning van aardse mag­hebbers te verbeur, is volgens die skrywer van die Jakobusbrief slegs moontlik indien ons vertroue enkel en alleen op God is.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.