In die laaste week of twee het ’n vuurwarm herrie rondom die kunsportefeulje van ’n matriekleerling aan ’n Christelike privaatskool in KwaZulu-Natal ontstaan. Wat veronderstel was om deel uit te maak van ’n uitstalling van die werk van matriekleerlinge by die skool se prysuitdelingsgeleentheid het viraal gegaan toe die ontstoke pa van ’n ander leerling ’n video van die kunswerke op sosiale media geplaas het waarin hy dit as satanies en ’n bespotting van God en Christus bestempel het.
Van die kunswerke is gebaseer op klassieke kunswerke soos die Laaste Avondmaal van Leonardo da Vinci en die Skepping van Adam van Michelangelo. Wat onder andere vir talle mense wat na die video gekyk het, skokkend was, is die feit dat God en Christus in van die kunswerke vervang is met die hansworskarakter, Ronald McDonald, wat ’n sleutelrol speel in die bemarkingsveldtogte van die kettinggroep McDonalds.
Die vraag wat deur hierdie gebeure opgeroep word, is wat ons reaksie behoort te wys op kuns wat skok en met die eerste oogopslag selfs aanstoot gee. Natuurlik het mense die reg om te protesteer wanneer iets wat vir hulle van groot betekenis is, bespotlik gemaak en op aanstootlike wyse uitgebeeld word. Dit neem egter nie die reg van ’n kunstenaar weg om ’n eie perspektief op die werklikheid te hê en hieraan uitdrukking te gee in ’n kunswerk nie. Omdat kunstenaars ’n eiesoortige en onkonvensionele manier het om na die werklikheid te kyk, is dit te verwagte dat hulle kunswerke nie altyd ’n bevestiging van heersende idees gaan wees nie, maar meermale sulke idees op provokatiewe wyse gaan bevraagteken.
Wat dikwels gebeur is dat mense op oningeligte wyse na kunswerke kyk, aanstoot neem en dan kritiek uitspreek wat nie noodwendig reg laat geskied aan wat die kunstenaar se bedoeling met sy kunswerk was nie. Dit is presies wat in die huidige situasie gebeur het. In plaas daarvan om in gesprek te tree met die leerling wie se werk as skokkend beleef is, is daar onmiddellik met verontwaardiging gereageer en is mense op groot skaal gemobiliseer om protes aan te teken teen iets wat sonder meer as aanstootlik beskou is.
Die leerling, die 18-jarige Gary Louw, wat toevallig dieselfde aand wat die storm rondom sy werk losgebars het, as sy skool se Dux-leerling aangewys is, het mettertyd gereageer deur daarop te wys dat persone wat sy werke as satanies beskryf, die bedoeling van die werk verkeerd verstaan.
Oor die spesifieke werke waarin die Ronald McDonald-figuur in van die kunswerke gebruik word, sê hy onder andere: “It explores the commercialisation of contemporary religion as well as the monetary exploitation of the faithful by greedy individuals who hide behind the guise of the church or similar institutions.”
So gesien, is dit byvoorbeeld duidelik dat die vervanging van Christus met Ronald McDonald in die Laaste Avondmaal-toneel nie bedoel is om Christus bespotlik te maak nie, maar eerder om te wys wat gebeur wanneer ’n simbool van die verbruikerskultuur die plek van Christus inneem. Bokant die kop van die plaasvervangende “Messias” is daar drie dollartekens, en aan tafel saam met hom is daar in plaas van dissipels ’n vreemde mengelmoes van eienaardige karakters – onder andere twee varke, ’n bokram, ’n harlekyn, ’n persoon in ’n militêre uniform en ’n tele-evangelis. Die nagmaaltafel is gedek, maar daar is geen brood of wyn nie – die groot beloftes van gekommersialiseerde godsdiens blyk ’n leë aanbod te wees.
In die lig van die felle kritiek is dit eintlik ironies dat die strekking van hierdie werke aansluiting vind by Jesus se kritiek teen die kommersialisering van die tempelkultus en die uitbuiting van mense wat daaraan deelneem. Die kritiek van die kunstenaar herinner ook sterk aan Jesus se waarskuwing dat ’n mens nie God én Mammon (aardse besittings) kan aanbid nie: jy gaan onvermydelik die een hoër ag en die ander een afskeep.
’n Werk wat op soortgelyke wyse inspeel op Da Vinci se Laaste Avondmaal, is die keramiekbeeldhouwerk The Gluttony of the Last Supper van die Ierse kunstenaar Gillian Joyce. Soos in Louw se werk is Ronald McDonald ook hier die gasheer aan die tafel. Maar in plaas van ’n leë tafel, kry ons hier ’n oordaad van McDonalds se burgers en skyfies. Kommersialisering en die vervanging van Christus lei in die geval tot ongebreidelde vraatsug.
Die beste wyse om op kuns wat skok, te reageer is myns insiens nie om onmiddellik te aanvaar dat jou verontwaardiging berus op ’n geldige interpretasie van ’n bepaalde kunswerk nie, maar om eerder agter die kap van die byl te kom deur te vra wat die kunstenaar met sy of haar werk wou sê. En as jy dan nog steeds geskok is, op so ’n manier aan jou verontwaardiging uiting te gee dat dit lei tot ’n sinvolle, selfs robuuste gesprek met mense wie se perspektiewe anders as joune is. Dit, meen ek, is die Christelike weg.