Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Mense wat ‘anders’ is, nie ingesluit in gesprek”

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Rudi Swanepoel van Johannesburg skryf:

’n Streeksinode van die NG Kerk wil van die kerkverband skei. Die rede is redelik duidelik: die Algemene Sinode het ’n besluit geneem waarvan hulle nie hou nie.

Die besluit wat onlangs geneem is, is baie dinge. Dis onder andere akkommoderend. Dis juis hierdie aspek wat vir sommige mense ’n probleem is, want terwyl sommige kerkrade en gemeentes (met ’n sekere oortuiging) “nee” gaan sê, het ander kerkrade en gemeentes (met ’n ander oortuiging) nou die vryheid om “ja” te sê.

 Ek sukkel om raak te sien hoe enigiemand in enigiets gedwing word.

Wat ek wel raaksien, is ons onbeholpenheid met onsself, ons eie kerklike (reformerende) tradisie, ons verhouding met die Bybel en helaas: ons onvermoë om vir ander mense te gun wat ons vir onsself toe-eien.

Een van die kernprobleme in hierdie hele sage is dat ons dreig om ten gronde te gaan weens ’n gebrek aan kennis. Na al die studie wat die NG Kerk gedoen het en laat doen het, na stapels en stapels verslae, na ure en ure se debatte, weet ons nog steeds nie genoeg nie, daarom verstaan ons nie en het ons nie begrip nie.

Want mense wat “anders” is, is nie ingesluit in die gesprek nie.

Ek vermoed dat ons heimlik bang is vir ’n gesprek waar almal mag praat.

 Ek wonder waarvoor ons bang is.

Ek weet nie of ons gewillig is om oor ons lywe en ons drange en ons vervuldheid (of gebrek daaraan) te praat nie.

Wat as dit ons weerloos maak, soos wat hulle al jare lank weerloos (in die kerk se gesprek) is?

Wat as ons skielik voel hoe dit voel om van ’n kant af bespreek en bepraat te word? Gaan dit nie dalk sleg wees nie?

Wat as die kerk en haar besluite ons vreemd(-er) en vuil(-er) laat voel? 

Sou daar verse daarvoor wees, in lyn met God se bedoeling om mense te “nail”?

Nee.

Het dit nie al genoeg gebeur nie?

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top