Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Dis net genade,’ sê 100-jarige

“Ek is eintlik klaar met hier­die wêreld, ek leef net uit genade.”

Met dié woorde en ’n groot glimlag groet Margie Lubbe besoekers op haar 100ste verjaarsdag. Sy sit kiert­sregop in haar eenslaapkamerwoonstel in ’n versorgingsoord in die Paarl. Haar oë blink en op haar skoot lê ’n Bybeldagstukkieboek van Solly Ozrovech waaruit sy oggend­godsdiens gedoen het.

“My familie is die lieflikste genadega­we,” sê Margie Lubbe op haar 100ste ver­­jaarsdag. Foto: Conette le Roux

“Bybel-Media lê my báie na aan die hart,” sê dié donateur van die afgelope 13 jaar. “My man het meer as 20 liefdadigheidsorganisasies gehad vir wie hy geld geskenk het, maar toe hy oorlede is het ek besluit om net Bybel-Media te ondersteun. Ek voel hulle dek alles wat vir my be­langrik is. Christelike boeke, sen­dingwerk …”

Oor haar gesondheid is sy baie dankbaar. “Dit is wonderlik dat ek kan onthou, die goed en die kwaad. Ek is ook gesond. Dis net my bene en heupe wat bietjie sukkel. Dit is regtig ’n goddelike genade.”

Sy vertel sy was “kindertuinonderwyseres” maar dat haar grootste roeping die rol as tuisteskepper was. “Dit was vir my heerlik om my man en twee seuns tuis te versorg,” sê Margie.

Sy dink terug: “As ek nou terugkyk oor my lewe van hier na waar ek grootgeword het in Carolina (Mpumalanga) sien ek net die Here se ge­nade wat oral op my lewenspad bestrooi lê.”

Vra jy haar geheim vir oudword sê sy: “Bly naby die Here, dan sal jy nooit wankel nie.” – Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top