Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Jaap Durand en medeskrywer Verena Schoeman by die boekbekendstelling van Bloedbruide van Christus wat op 17 Novem­ber in die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloem­fontein plaasgevind het. Die boek handel oor vroue in die vroeë eeue wat vir hulle geloof in Jesus die hoogste prys betaal het. Foto verskaf

Durand: ‘Dankie is te ’n klein woordjie’

“Ek is 85 jaar oud en ek was daarvan oortuig dat ek graf toe sal gaan met hierdie onopgeloste probleem tussen my en die kerk waarin ek opgegroei het …”

Dít was prof Jaap Durand se reaksie toe hy onlangs hoor dat die probleem toe wel na 37 jaar opgelos is. Die Algemene Taakspan vir Predikantesake (ATP) het die versoek om sy bevoegdheid in die NG Kerk (NGK) te herstel, goedgekeur.

Sy naam sal ook in die Bevoegdheids­register ingevoeg word en onder emeriti, wat oor bevoegdheid beskik, in die Jaarboek gepubliseer word, luidens ’n brief aan Durand vanaf die ATP.

Durand, wat in die NG Kerk gelegitimeer is, se bevoegdheid is 37 jaar gelede weggeneem ná die aanvaarding van die Belharbelydenis waarvan hy medeskrywer was. So het Durand een van die kritiese stemme teen die teologiese regverdiging van apartheid deur die NG Kerk geword.

Volgens Durand was hy destyds sy bevoegdheid kwyt sonder dat die NGK sý kant van die saak gehoor het. “Ek moes deur Bernard Combrink ingelig word nadat hy dit in die Kerkbode gelees het. Vandag kom jou brief hier aan om vir my in te lig dat my bevoegdheid terug­gegee is, sonder dat dit vir my nodig was om selfs eers persoonlik voor die betrokke kommissie te verskyn. Ek dink nie jy het ’n idee wat in my gemoed omgaan nie … Dankie is te ’n klein woordjie …” het Durand in ’n e-pos aan ds Jan Lubbe van die Vrystaatse Kuratorium gesê wat eerste vir Durand laat weet het nadat hy van die nuus te hore gekom het.

Hoewel die Wes-Kaapse moderamen in 2014 formeel verskoning aan Durand gevra het oor sy status wat weggeneem is, het hy steeds gevoel “’n soort skaduwee” het oor sy bediening gehang, ten spyte daarvan dat hy sy bevoegdheid in die VGK behou het.

Lubbe sê die Vrystaatse Kuratorium het in 2017 ’n versoek aan die Vrystaatse Sinode, om Durand se status te herstel, gerig.

Volgens Lubbe het die kuratorium gevoel hulle moet die versoek rig omdat Durand vanaf Dealesville in die Vry­staat kom en sy teologiese studies aan die Universiteit van die Vrystaat begin het.

Lubbe noem dat die versoek om Durand se ampsbevoegdheid in die NG Kerk te herstel, “ondersteun is deur die Kuratorium in Stellenbosch en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, en dat die besluit van die ATP allerweë met groot dankbaarheid ontvang is as ’n daad van regstellende geregtigheid”.

Behalwe vir sy suksesvolle loopbaan in die akademie by die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Teologie het Durand vele boeke geskryf. Hy is vanjaar met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir In awesome wonder (Bybel-Media) bekroon. Op 17 November is Durand se jongste boek Bloedbruide van Christus (Bybel-Media), waarvan hy medeskrywer was, in Bloemfontein bekendgestel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top