Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ons is dankbaar

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Ons, predikante en ander lidmate van die NG Kerk, spreek hiermee ons opregte dank uit vir die ruimte wat die Algemene Sinode van 2019 se besluit laat vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag, en vir die ruimte wat die besluit skep vir gay gelowiges om hulle roeping in die kerk volledig uit te leef.

Ons is dankbaar om die volgende redes:

 

  1. Ons beskou die Woord van God as gesaghebbend vir ons lewens. Hierdie besluite wat ruimte skep, vloei vir ons logies voort uit ons verstaan van die Skrif as geheel.

 

  1. Ons meen die besluite klop ook met die insigte wat ons uit die menswetenskappe kry oor menslike seksualiteit. Die menswetenskappe staan vir ons nie teenoor die Bybel nie. Die Bybel is immers vol van hoe die skepping getuig oor die grootheid van God. Daarom dat ons in Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat ons God op twee maniere leer ken: eerstens deur die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld, en tweedens deur die Woord van God. Die wetenskappe doen ’n sistematiese ondersoek na aspekte van God se skepping. Dit help ons om God se skepping beter te verstaan. Om die wetenskap te ignoreer, glo ons, is om ’n mens doelbewus blind te hou vir ’n deel van God se openbaring.

 

  1. Ons is navolgers van Jesus Christus. Ons leer uit die Skrif dat Jesus besorg is oor mense se welsyn. Hy sê volgens Johannes 10:10 dat Hy gekom dat sy volgelinge die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ons sien dat Jesus dit uitleef in die manier waarop hy die hongeres voed, die siekes genees, en almal, maar veral die randfigure, insluit in sy genade. Ons sien ook in Matteus 25 dat Jesus juis oordeel op grond van hoe mense die minstes in die samelewing behandel het. Ons is daarvan oortuig dat Christus ons verwag om ook ons gay broers en susters se welsyn op die hart te dra.

 

  1. Ons glo dit is belangrik om na gay mense se verhale te luister en hulle nood te hoor. Jesus het die voorbeeld gestel. Dis ’n deurlopende tema in die evangelies dat Jesus en die godsdienstiges van sy tyd bots omdat Hy mense op die sabbat gesond maak. Nooit is die godsdienstige leiers besorg oor die siekes wat Hy genees nie. Hulle is bloot bekommerd oor gehoorsaamheid aan ’n wet soos hulle dit verstaan. In Markus 3 lees ons dat Jesus diep bedroef is oor hulle verhardheid. Omdat Jesus mense se nood hoor en daarop reageer, glo ons dit is wat ons ook moet doen.

 

  1. Ons sien in die verhale oor Jesus se botsings met die godsdienstige leiers oor die sabbat hoe gevaarlik ’n godsdiens is wat op die nakom van die letter van die wet gesteld is sonder om te vra na wat dit aan mense doen. As Jesus die wet saamvat in liefdesterme en in die bergrede sê dat Hy gekom het om die wet sy volle betekenis te laat kry, verstaan ons dat Hy die wet so vertolk dat dit ’n draer van God se liefde moet wees. As ons hoor dat Hy sê dat sy volgelinge se gehoorsaamheid meer moet inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs, dan verstaan ons dat ons die wet altyd so moet hanteer dat dit mense se welsyn bevorder (Matteus 5:17-20). As Jesus sê die sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbat nie (Markus 2:27), toon hy aan dat die wet daar is ter wille van mense, en dat mense nie slawe van ’n wet mag wees nie.

 

  1. Uit die getuienisse van gay gelowiges is dit vir ons duidelik dat ’n veroordelende standpunt oor homoseksualiteit vir hulle ontsaglik skadelik is. Hulle kan hulleself nie van hulle seksuele oriëntasie bekeer soos sommige gelowiges van hulle verwag nie, al probeer baie van hulle ook. Die verwagting dat gay gelowiges hulle moet bekeer, oorlaai hulle met skuldgevoel. Die gedagte dat iets wat onlosmaaklik deel van hulle is, vir God verwerplik is, wek by baie gay gelowiges gevoelens van selfverwerping en selfveragting. Vir baie lei dit tot depressie en vir party tot selfdood. Ons meen ’n teologiese standpunt wat sulke gevolge het, klop glad nie met die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom stel het nie. Sy opdrag was immers om lief te hê en ons glo Romeine 13:10: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”

 

  1. Ons oortuiging is dat ’n liefdevolle en getroue gay verhouding nie sonde kan wees nie. Ons oortuiging is dat die Bybel niks sê teen liefdevolle en getroue verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag nie. Die term “homoseksualiteit” is eers in die laaste eeu in Bybelvertalings gebruik. Om tekste soos Romeine 1:26-27, 1 Korintiërs 6:9-11 en In 1 Timoteus 1:8-11 reg te verstaan, moet ons baie meer aandag gee aan die konteks waarin dit ontstaan het. Uit Romeine 1:23 is dit byvoorbeeld duidelik dat dit daar gaan oor orgies as deel van afgodsdiens. In Korinte met al sy afgodstempels het dit gegaan oor die seksuele misbruik van seuns deur ouer mans, ook in die konteks van afgodsdiens. Dit is losbandige praktyke wat ander mense skade aandoen en daarom is dit sonde.

 

  1. Ons sien in die lewens van ons gay broers en susters dat hulle heel word as hulle by die punt van selfaanvaarding kom. As kerk kan ons daartoe bydra deur hulle en hulle verhoudings volledig te aanvaar. Dit doen ons omdat ons glo dat God hulle volledig aanvaar soos wat God ons volledig aanvaar. Ons is oortuig dat God ons broers en susters se gay verbintenisse seën soos wat God heteroseksuele mense se huwelike seën.

Daarom verwelkom ons die ruimte wat die jongste sinodebesluit vir gay verbintenisse laat.

 

Geteken:

 

Neels Jackson, André Bartlett, Johan Conradie, Jacques van Rensburg, De la Harpe le Roux, Jacobie M Helena Visser, Franziska Andrag-Meyer, Cornelius J Hatem, Louise Jackson, Pieter Dorey, Lou-Maré Denton, Louis Jonker, Anita Jonker, Micaela Wahl, Estelle Muller, Alphonso Groenewald, Michiel Strauss, Wannie Carstens, Gerhard Bothma, Carel van der Merwe, Lenois Stander;

Plantjie Janse van Rensburg, Albert Cruywagen, Eulogia Murray, Johan Botha, Elize Morkel, Willem Wiid, Marius Combrinck, Gielie Hoffmann, Hilze-Marie Malherbe, Fanie Snyman, Willie van der Hoven, Esta van der Hoven, Jeanine Hepburn, Carien du Toit, Christi Thirion, Ansie Prosser, Gys Loubser, Berrnard Malherbe, Johan Stander, Attie Botha;

Johan van den Heever, Suzan de Jager, Muller Oosthuizen, Pieter Visser, Ryna du Plooy, Tiaan van Niekerk, Riaan de Villiers, Van Zyl Brink, Schalk Naudé, Celeste Naudé, Johan Smit, Stefan de Klerk, Annemie Bosch, Annette Potgieter, Martin Lazenby, Malinda Lazenby, Wynand du Plessis, Lyn van Rooyen, Ronell Bezuidenhout, Deon Strydom;

Andre Smuts, Minette van Schlkwyk, Hennie Pienaar sr, Freddie Calitz, Marieta Hattingh, Johan van Staden, Pieter Kruger, Sandra Odendaal, Emma Pienaar, Chris van Heerden, Marius Greeff, Aneleh Fourie le Roux, Marietjie van Loggerenberg, James Kirkpatrick, Tienie Bosman, Ghisnene Müller, Anton Pienaar, Lea Truter, Pieter Theron, Carol Theron;

Johannes Mouton, Jalize Uys, Ralph Barnard, Yolande Steenkamp, Richard Holloway, Judith Kotze, Eugene Malan, Nelus Niemandt, Dolf du Plooy, Elaine Dippenaar, Gabrielle Forsmann, Bianca Botha, Ruan Nieuwenhuizen, Hans Steyn, Wynand Marc Breytenbach, Cornelius Jonker, Rousseanne Malan, Michelle Boonzaaier, Annemaré Kotzé, Peter Nagel.

Albert Alberts, Anje Zeeman, Ida Brink, Ryk Brink.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Ons is dankbaar”

Comments are closed.

Scroll to Top