Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dana Snyman. Foto: Adrian de Kock

Die jaar toe juffrou Connie siek was

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Wou Boetie daardie aand iets vir ons probeer sê? Dalk.

Dit was in Desember en ek was ’n kind en dit was die jaarlikse Kerssangdiens in die kerk op ons dorp.

Pa, die predikant op die dorp, het op sulke aande nie gepreek nie. Hy het net gedeeltes uit die Bybel voorgelees – meest­al uit die vier Evangelies. En tussen­deur het die gemeente en die kerkkoor om die beurt gesing.

Ma het ook in die koor gesing. Saam met tannie Martie en tant Hester en antie Julie. En oom Kerneels, natuurlik – oom Lang-Kerneels Smit.

Eintlik was oom Kerneels ’n hele koor op sy eie. Hy was ons eie Ivan Rebroff. Hy het bas gesing, maar as die tenore – oom Bakkies en oom Floors en Jurgie van die poskantoor – sukkel om by hulle note te kom, sou oom Kerneels ’n oktaaf of wat hoër strek en hulle ’n bietjie aanjaag voor hy weer terug sy vi­bre­rende basstem in sak.

Dit is vir my moeilik om tussen daar­die Kerssangdienste te onderskei; die een was nes die ander. Tussen die koorsang en Pa se voorlesings het tant Sophie ook elke jaar vir ons Elisabeth Eybers se “Maria”-gedig voorgedra. Flip­­pie Poolman het ’n trompetsolo ge­lewer, en aan die einde van die diens het almal saam die “Onse Vader” gesing.

Elke jaar was dit só – behalwe een jaar. Die jaar toe juffrou Connie, die orreliste, siek geword het. Die Saterdag al was sy olik, maar wie sou ooit kon dink juffrou Connie sal nie by die Kerssangdiens wees nie? Maar ’n uur of drie voor die diens moes hulle met haar na ’n buurdorp toe ry, hospitaal toe, want op ons dorp was nie ’n hospitaal nie. Dit was klierkoors.

Dit was ’n krisis, want juffrou Connie was die enigste een op die dorp wat orrel kon speel. Of liewer, sy was die enigste een op die dorp wat toegelaat is om die kerk se orrel te speel.

Pa het inderhaas van sy kollegas op die buurdorpe gebel, maar nêrens was ’n orrelis beskikbaar nie.

En toe sê Ma vir Pa: “Hoekom kry ons nie vir Boetie nie?” Dit was Kersfees, onthou.

Boetie. Hy was vir almal, selfs ons kinders, net Boetie. Hy was iets in die vyftig en het in ’n huis op die rand van die dorp gewoon, naby die lokasie. Hy het ’n winkeltjie gehad, maar hy was glo eers ’n rekenmeester in die stad.

Daar was allerhande stories oor Boetie op die dorp: dat hy ’n verhouding met ’n man van Kimberley gehad het, dat hy lief was vir die bottel en dat dit van slimgeid is dat hy so mallerig is.

Party Sondae het Boetie glo die orreltjie in die bruin kerk in die lokasie gespeel.

Pa het eers ’n paar telefoonoproepe in sy studeerkamer gemaak: na oom De Wet, die hoofouderling, en grootkoppe in die kerk toe, voor hy laat die Sondagmiddag in die motor geklim en na Boetie gery het. Sonder ’n orrelis sou daar nie ’n Kerssangdiens kon wees nie.

Wat daardie middag tussen Pa en Boetie gesê is, weet ek nie. Ek het ook nooit vir Pa gevra nie, want ek glo al hoe meer: Om alles te weet, help nie altyd om alles te verstaan nie.

Pa het kort voor die diens met Boetie by die pastorie aangekom.

Het hy? het Ma in die kombuis gevra.

Ja, hy het, het Pa geantwoord. Bring sterk koffie. Bring pepermente.

Hulle het Boetie by die eetkamertafel sitgemaak en hy het ’n pienk das aangehad en hy het gesweet terwyl Pa deur die afgerolde program vir die Kerssang­diens met hom gegaan en Ma hom kof­fie en pepermente gevoer het.

Ma het met hom aan die arm van die pastorie af kerk toe gestap.

Ek het alleen in die pastoriebank gesit, want Ma was saam met die koor op die galery. Die kerk was vol mense.

Oom Hansie, die koster, het die laaste gelui gelui, en Boetie se hare het wild op sy kop gestaan waar hy voor die orrel op die galery gesit het. Pa het gelees van die engel wat sê: “Moenie vrees nie, want, kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding …”

Daarna moes die koor sing: “Kom her­waarts, getroues.”

Boetie het die sweet met die plat hand van sy nek gevee en die eerste akkoorde gedruk en toe val die koor weg, met heel voor oom Lang-Kerneels in sy basstem. Maar voor die einde van die eerste versie toe haal Boetie hom in, en dwing hom terug tussen die note van die oop Koraalboek voor hom op die orrel in.

Daar is iets soos die wedergeboorte van stories, glo ek. Op sulke aande word ou-ou stories nuutgemaak.

Tant Sophie het “Maria” voorgedra en Flippie het met swellende are in sy slape ’n trompetsolo gespeel en die koor het weer en weer gesing. Boetie het daardie aand die mooiste uit die koor gehaal.

Toe sê Pa: Ons sluit nou af met die “Onse Vader”.

Ons het opgestaan en Boetie het so halforent gekom agter die orrel, en toe weer gaan sit – en weggeval met “Die Stem”, die volkslied: “Uit die blou van onse hemel …” Met die orrel se pype oop.

Oom Kerneels het sy voete wyer geplant en volgehou met die “Onse Vader”, maar oom Kerneels kon nie, en toe het hy ook maar “Die Stem” saam met ons begin sing.

Opeens, in die middel van “Die Stem” se tweede versie, het Boetie ophou speel. Vir ’n ruk was daar stilte in die kerk. Toe het Boetie weer ’n slag oor sy nek gevee en toe, kalm, begin om die “Onse Vader” te speel: “O, Vader, wat woon …”

Ons het die “Onse Vader” daardie aand gesing – so wíl ek dit onthou, so sál ek dit onthou, so móét ek dit onthou – daardie aand het Boetie ons die “Onse Vader” laat sing asof ons die donker om ons kerk en om ons dorp weg wou sing.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top