Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Genade is ’n baarmoedergevoel

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Ons glo in Jesus Christus, wat ont­vang of gebore is uit Gods baarmoeder.

Só bely ’n sewende eeuse konsilie – die Konsilie van Toledo. Dit is opvallend dat die Latynse teks (e patris utero … filius genitus vel natus) Christus se vleeswording of koms na die wêreld aan die hand van baarmoedertaal beskryf. Die geloofsgrammatika in hierdie teks maak dit baie duidelik dat hierdie soort taalgebruik nie ontbreek of slegs onlangs eers in kerklike belydenistaal ingesluit is nie. Dit is nie (nét) moderne of liberale gelowiges wat hierdie soort taal praat nie. Hier staan begrippe soos baarmoeder (utero), ont­vang (genitus), en gebore (natus) aan die hart van die geloofbelydende taal wat die kerk vir eeue reeds praat.

In die boekpublikasie Reconceiving reproductive health (2019) word verbandhoudende temas – strekkend vanaf aborsie tot miskrame tot infertiliteit tot reproduktiewe tegnologie – (her)oorweeg in gesprek met die Bybel, geloofs­tradisie, en mense se deurleefde bele­wenisse en lewenservarings. In hierdie boekpublikasie is dit opvallend dat baar­moeders die kern vorm van talle Bybelse verhale. Trouens, dalk sou die verhaal van God se verbond met mense daarsonder onvertelbaar word. Sleutelgebeure in die storie van God se verlossing van mense behels vroue se liggame (en baarmoeders, spesifiek).

Dink maar aan die aartsmoeders van Israel wat die realiteit van infertiliteit in die gesig staar: Sara, Rebekka, Ragel. Dink aan ander vroue in die Bybel rond­om wie reproduktiewe gesond­heids­kwessies geld: die naamlose ma van Simson; Hanna, die ma van Samuel; Elisa­bet, die ma van Johannes die Do­per. En nog talle ander vroue in die Bybel – soos die naamlose dogter van Jefta; en Migal, dogter van Saul en vrou van Dawid; en Tamar, die dogter van Dawid wat deur haar broer Amnon verkrag word – wat geen kinders baar nie.

Advent, dié tyd in die kerklike jaar waarin die kerk oor die wêreld heen Christus se vleeswording en geboorte – Christus se koms na die wêreld – her­denk, is juis dan ook gesentreer rondom so ’n drama: die drama van Maria se swangerwording. In die kerk se geloofsgeheue en geloofsgrammatika is hierdie verhaal egter nie net nog ’n verhaal nie, maar bepalend tot alles wat ons in die kerk doen en sê. Ons bely immers dat God deur hiérdie vrou ons Verlosser laat kom.

Die Duitse teoloog Jürgen Moltmann wys daarop dat die Hebreeuse woorde vir genade (rachamim) en baarmoeder (rechem) nou verwant is, en dieselfde woordbasis deel. Genade is, binne hierdie beskouing, iets wat uit die gut kom – uit ons maag, uit ons derms, uit ons binneste binneste. Dit beteken dat genade baie meer is, argumenteer Moltmann, as simpatie vir ander of meele­wing met ander. Genade kom uit ons gut. Die plek waaruit geboortepyne ook kom. Dit is egter nie net enige soort pyn nie, maar die pyn wat dooies lewend kan maak, wat die gevangenes bevry, wat ons vry maak om te floreer.

Die Ghanese teoloog Mercy Oduyoye beskryf die baarmoeder as die plek waarvandaan ons mekaar versorg. Dit behels egter veel meer as net welwillend­heid. God se baarmoeder kom ook in opstand teen onreg en geweldpleging – sy gebruik die beskrywing ‘agitated womb’ – juis omdat dit die plek is waar­vandaan nuwe lewe en ’n vol lewe, liefde en genade, geskenk word. God se gena­de is wat sy noem abadae (“womb compassion”). God se liefdevolle selfopgawe wys vir ons hoe baarmoederlike deernis en medelye lyk. Dit is ’n liefde wat nie eiebelang soek nie; wat nie grootpra­terig, of verwaand, of jaloers is nie. Dit handel nie oneerbaar nie, maak nie lysies van ander se oortredings nie, en vind geen plesier in onreg nie. God se selfopofferende liefde wys ons daarop dat die geskenk van liefde baie goed kan beteken, maar nooit hoofsaaklik besig is met ditself nie. Dit is juis in die opgawe, in die skenkhandeling, wat ons God se genade ontvang en kan uitleef.

Die goeie nuus van die evangelie begin nie eers by die kruisiging, by Goeie Vrydag, by die Paasgebeure nie. Die goeie nuus begin in ’n baarmoeder. Christus se vleeswording is ingesluit by die verlossingswerk. Ook die baarmoe­der waarin Jesus vlees word, die baarmoeder wat die mensgeworde God ont­vang, die baarmoeder wat Christus skenk aan die wêreld, is volledig deel van die evangelie wat ons in hierdie dae bely. Die goeie nuus van die evangelie is egter nie dat enige vrou swanger word nie, maar dat Jesus Christus vir ons álmal gebore is.

Daarom kán ons ook aan ander men­se hierdie genade toewens en gun. Daarom hóéf ons nie ’n genadeskaarste te vrees nie. Daarom behóórt ons nie mekaar se menings en denke en lewe met alle mag en krag te wil beheer, forseer, of dwing nie. Gods baarmoederlike genade kan immers nie opgegaar word nie. Ons kan mekaar hierdie genade – en die geluk, en florering, en vryheid wat dit skenk – sonder venyn of vrees gun.

Genade is ’n baarmoedergevoel.

▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.