Wellington se hoofstraat was op 4 Desember ʼn fees van kleure, geure, musiek en samesyn. Dié Wellington Unite-gemeenskapsete het as ʼn droom by die Wellington Moedergemeente ontstaan, het ds Lettie Büchner vertel. Een kerk-afkondiging later en twee lidmate het hande opgesteek om die reuse-ete vir sowat 1200 mense ʼn moontlikheid te maak.

Xania van der Merwe, ʼn kenner in die toerismebedryf, het voorgevat as organiseerder. Van der Merwe het behalwe aan individue ook tafels aan sakeondernemings in Wellington verkoop. Hierbo is die werknemers van Sunfield Homes, ‘n sentrum vir gestremde volwassenes.

Die idee van die ete was om mense na jou tafel te nooi wie nie gewoonlik by jou aansit nie. Elra Smit (bo met kopband) sê sy wou graag buite haar “comfort zone” beweeg. Oorkant haar sit Richard Jarare en sy vrou Babra wat oorspronklik van Zimbabwe is. Hom het Elra by Pick ʼn Pay ontmoet waar hy ʼn werknemer is. Die ander gaste is Elra se man, Hendrik-Jan, haar seun Janré en sy vriende.

Bo kuier ‘n selgroep saam van die Oos-gemeente. Hulle het ook twee Malawiërs saamgenooi: Moses Bexter (29) is een van die selgroeplede se tuinier en hy het sy suster Lindiwe Bexter saamgebring.

Die 1200 gaste is met ʼn driegangmaaltyd bedien. Bertus Fourie, ʼn sjef, was die ander lidmaat wat ʼn sleutelpersoon was om van die aand ʼn sukses te maak.
“Ek wil dit waag om te sê niemand in Wellington het op 4 Desember honger gaan slaap nie. Na die ete was daar genoeg kos oor om vir sowat 100 haweloses kos te gee,” sê Bertus.

Gemeenskap se driegangmaaltyd in getalle:
- 125 kg wortels
- 15 Karoogesertifiseerde skape
- 1200 aartappels
- 1200 broodjies
- 45 kg botter
- 80 liter melk
- 120 1,5kg malvapoedings
- 25 liter suurroom


