Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ek gaan die jaar in met net een Nuwejaarsvoorneme: om oop te wees vir wat die nuwe jaar bring. Ek wil myself oopstel om van bo, onder of binne verras, aangepor en uitgedaag te word.
Oop vir uitnodigings van bo
Nuwe hoofstukke in die lewe kom soms van buite. Ek wil die jaar oop wees vir brandende bosse in die hoek van my oog. Iemand vertel my lank terug dat goeie rugbyspelers nie net reageer op wat hulle voor hulle sien nie, maar ook bewus is van wat in die hoek van hulle
oog aan die gang is. Of dit waar is van rugby weet ek nie, maar dit is waar van die lewe. In (Julia Cameron se boek) The Artist’s Way word lesers aangemoedig om ten minste een keer per week so ’n ‘hunch’ te ontgin. Die skrywer se voorstel is dat jy twee uur elke week uitboek en jou nuuskierigheid oor iets ‘in die hoek van jou oog’ ontgin.
Ek wil oop wees vir mense wat my uit die bloute nooi op ’n nuwe avontuur. Ek wil meer ‘ja’ se vir groepe wat my nader wink om by hulle aan te sluit. Ek wil projekte wat ‘uit die bloute’ oor my pad kom, ontgin. Mag ek vanjaar oop bly om van bo verras te word.
Oop vir ontwrigting van onder
Soms bereik die vurk in die pad ons van onder. ’n Ongeluk, ’n krisis, ’n teleurstelling is dikwels ’n uitnodiging om deur ’n ander deur te stap. Daar is die storie van ’n dominee wat ’n lidmaat na ’n hartaanval besoek en vra: “Wat het jy geleer uit die hartaanval?” Waarop die man wat in die hospitaal is, antwoord: “Niks.”
“Wel, dan het jy sopas ’n goeie hartaanval gemors,” merk die dominee toe op.
Mag ek vanjaar oop bly om God ook te sien in die plekke waar ek dink God is afwesig. Mag ek geleenthede sien in teleurstellings.
Oop vir aanpor van binne
Soms lê die ontkiemde saad van ons nuwe toekoms reeds diep binne ons. Dit is dikwels ons ‘deugde’ wat ons vashou. My ‘netheid’ ondergrawe my kreatiwiteit. Of my ‘kreatiwiteit’ ondergrawe my effektiwiteit. Een van die laste van die lewe is dat ons gewoontes aangeleer
het wat ons nie meer dien nie. Dat ons hanterings-meganismes ontwikkel het wat uitgedien is. Dat ons onsself beskerm teen kritiek en gevare wat nie meer bestaan nie.
Mag ek oop wees vir die onrus van my hart. Mag ek die passie om ’n verskil te maak ondersoek. Mag ek my behoefte om my volle mensewees te ontgin, ernstig neem.
Dus, geen nuwejaarvoorneme, net oop om te ontvang.
