Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ware geskenk of omkoop-geskenk?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wanneer ons deur Paulus se briewe lees is dit duidelik dat genade vir hom die grondslag van ons verhouding met God vorm. So herinner Paulus die Korintiërs daar­aan dat hulle die genade van hulle Here Jesus Christus ken (2 Kor 8:9).

Die vraag is egter wat hy met genade (charis) bedoel het. In sy omvangryke studie, Paul and the Gift (2015), voer die Britse Nuwe-Testamentikus John Barclay aan dat genade in die tyd van Paulus binne die denkraamwerk van die gee van geskenke verstaan is. Wanneer Paulus oor die genade van God skryf is dit omdat hy Jesus as God se geskenk aan ons verstaan (2 Kor 9:15). Net so kan die genade van Jesus verwys na sy gee van Homself vir ons (Gal 1:4). Aan­gesien genade in die lig van die gee van geskenke verstaan moet word, moet ons verstaan hoe geskenke in die antieke wêreld beskou is.

In die moderne wêreld word die gee van ’n geskenk gekontrasteer met die vergoeding van iemand. Geskenke word onverdiend en vrywillig gegee sonder dat die gewer iets terug verwag. So nie is dit nie ’n ware geskenk nie, maar eerder ’n omkoop-geskenk. Ware geskenke, en dus ook genade, is volgens ons moderne verstaan vry van enige verpligting. In die tyd van Paulus is ’n geskenk ook verstaan as die vrywillige gee van iets dank­sy die welwillendheid van die ge­wer. Dit is egter ook gesien as iets wat binne ’n persoonlike verhouding gegee word wat een of ander reaksie by die ontvanger moes ontlok.

Dié reaksie was onontbeerlik vir die voortbestaan van die verhouding tussen die gewer en die ont­vanger van ’n geskenk. In die lig daarvan dat Paulus se tydgenote ’n geskenk anders sou beskou as wat ons daarna kyk, beteken dat hulle ’n begrip soos genade ook anders sou verstaan. Om genade te ontvang sou vir hulle dui op die ontvang van ’n geskenk wat om meer van die gewer vra as om net dankbaar daarvoor te wees. Dit sou van hulle vereis om gepas daarop te reageer in terme van hulle optrede in lyn met die verhouding wat deur die gee van die geskenk geskep is.

In dié sin was genade en die gevraag­de werke, nie vir hulle teenstrydige konsepte nie. In die lees van die Nuwe Testament moet ons daarom versigtig wees om veel latere teologiese debatte daarin terug te lees.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top