Ek is klaar met die NG Kerk!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Ek is klaar met die Christendom maar nie met Jesus nie,” laat ’n deelnemer aan ’n bekende realiteitsreeks onlangs hoor. “Ek is 200% op dieselfde bladsy,” beaam die ma van ’n bekende. Kort daarna sê iemand tydens die vakansie: “Ek is klaar met die NGK”. “Die NGK is immers ’n plek vol patriargale wit Afrikaanse ooms wat my herinner aan al die boosheid van die verlede”. “Ek volg nou vir Jesus”. “Die NGK sal sy witheid moet bely of die einde is naby,” skryf ’n teo­loog met groot fanfare. Dit is uitsprake soos hierdie wat jou laat wonder oor die toekoms van die NG Kerk. Dit maak ’n mens op ’n snaakse manier morbied en swartgallig. Dit steel hoop! Moet ons nie almal dalk maar klaarmaak met die Christendom en die NG Kerk nie?

Tog is daar ook ’n ander verhaal wat in dié tyd afspeel: ’n Verhaal van hoop en oorlewing en voortbestaan. Dit is ’n verhaal wat in die Karoo voor my oë afspeel.

Langs die pad is alles dor en verbrand. “Die diere hier leef seker van klippe,” merk ’n medereisiger op. “Hier is niks anders om te vreet nie.” In ’n droë dam lê die karkas van ’n springbok.

Soos wat die dorpe verbyskuif is daar egter ook tekens van hoop. Op elke dorp staan hulle: Colesberg, Middelburg, Graaff-Reinet, Willowmore, ­Union­dale – kerkgeboue van die NGK wat baie jare gelede deur patriargale wit Afrikaanse ooms beplan en gebou is. Soos wat die een gebou na die ander verbyskuif wonder ek onwillekeurig hoe­veel geld en tyd en kundigheid span­deer is. Wie die argitekte was, wanneer die inwyding was en wie dit behartig het. Uit watter teks is daar gepreek?

Ek wonder oor die merkwaardige verhale wat hierdie geboue sou kon vertel oor die eeue wat verby is – oor ge­slag­te wat daar troos en hoop gevind het. Skielik verstaan ek dat dit wat uit die verlede kom nie net sleg is nie. In die tye van wanhoop staan die simbole van hoop in 2020 steeds daar vir almal om te sien.

Op 7 Desember ry ek dieselfde pad deur die Karoo. Dit reën op Uniondale en Willowmore en Aberdeen en Graaff-Reinet en Colesberg en in die Vrystaat en in Gauteng. Water loop in strome deur die veld. Die hoop het nie beskaam nie. Skielik besef ek dat ek nooit sal klaarmaak met die Christendom nie en nooit sal opgee op die NG Kerk nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.