Van lidmate tot leraars en selfs oud-lidmate van die NG Kerk het die afgelope twee dae kom luister na ’n paneel van “kundiges” en in groepsessies gedinkskrum by die “spesiale beraad” wat by Moreletagemeente gehou is. Kerkbode het ses mense uit die sowat 450 gevra waarom hulle hier is.
“My Bybel sê dan selfdegeslagverhoudings is verkeerd. Ek begin nou wonder of ek dit verkeerd verstaan. Ek kom soek duidelikheid.”
Dis die rede waarom Christa Vlok, lidmaat van die NG gemeente Reitz-Wes, die twee en ’n half ure saam met ander lidmate van dié Vrystaatse dorp na die Moreletagemeente in Pretoria aangepak het.

Roelf Nel van Brakpan wil ook helderheid kry, hoewel hy nie meer ’n lidmaat van die NG kerk is nie. “My verwagting is leiding en meer duidelikheid oor wat tans in die NG kerk aan die gang is.”

Chané Liebenberg, ’n lidmaat van die NG gemeente Reitz-Wes voel ook duidelikheid is die hoofrede waarom sy die beraad bywoon. “Ek is hier om duidelikheid te kry. Daar is baie onsekerheid op die oomblik. En dit gaan nie net oor die selfdegeslagkwessie nie. Ek wil ook vir ander lidmate, wat nie vandag hier is nie, gaan vertel. Dis nie die geval by ons kerk nie, maar ek weet van ander gemeentes se lidmate wat die kerk verlaat het omdat hulle dominee nie met hulle kommunikeer oor die kwessies wat in die NG kerk aan die gang is nie.”
’n Beraadganger, wat verkies om anoniem te bly, sê dat hy gekom het om inligting vir hom en sy omgeegroep in te win. “Ons wil nie hê die kerk moet skeur nie, maar ons is bekommerd. Die toekoms van die NG kerk is tans duister.”
Alta Kotzee, leraar van die NG gemeente Heidelberg, sê sy is hier om “saam te droom oor die toekoms”.
“Die kerk is op ’n moeilike plek en dis lekker om ’n ruimte te hê om hieroor te gesels,” vertel Eliska Muller, leraar van NG Nelspruit-Westergloed.

