Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Covid-19: ‘Kom ons werk met sekerhede’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hoewel die kerk soms sukkel om tussen randsake en fundamentele sake te onderskei, word sy nou gedwing om tussen heilsnoodsaaklike en minder belangrike sake te onderskei, skryf Pieter Dorey.


Alles is onseker. Niemand weet wat gaan gebeur en hoe 2020 verder gaan verloop en 2021 gaan lyk nie, maar niks en niemand gaan onaangeraak hierdeur kom nie.

Daar gaan veranderings wees en kom. Dalk baie veranderings, dalk min. Dalk radikale en ingrypende veranderings of dalk nie so radikaal nie.

Nou is daar mos die optimiste wat altyd kies om radikaal optimisties te wees en meen dat alles na normaal gaan terugkeer. Ongelukkig is optimisme soms ’n realistiese denkfout.

Dan is daar die mense wat vir pessimisme kies en wat meen dat alles nou net sleg gaan wees.

Logiese en realistiese evaluering en besinning is wel moontlik. Maar selfs logiese en rasionele besinning is voorlopig en op aannames gebaseer.

Ek skaar my nog altyd eerder by die realiste, maar die realiste wat met hoop lewe. Hoop is die sekerheid wat weet daar gaan weer iets beters wees, ’n beter toekoms. My hoop is ’n Christelike hoop wat vanuit ’n eskatologiese ewigheidsperspektief gemotiveer word.

Dit is egter nie al nie. Ek lewe ook met die wete dat daar in hierdie teenswoordige wêreldgeskiedenis ook beter tye voorlê, ’n beter “hiernoumaals”. Ek beywer my vir ’n beter môre en vandag. Daarom moet ons ons gereedmaak vir ’n onbekende toekoms. Dit kan baie dieselfde wees, maar ek sal verbaas wees as dit dieselfde gaan wees. Dit gaan ten minste anders wees, dalk selfs baie anders.

Ons kan net met dit wat ons tans weet rasioneel en realisties omgaan en ons toekoms na Covid-19 antisipeer, bedink en beplan. Ons moet hoopvol gereedmaak vir iets.

Of dit ’n oorreaksie was om af te sonder of nie, Covid-19 het die wêreld tot stilstand gebring. Dit het geweldige psigies-emosionele, sosiaal-maatskaplike, ekonomiese, politieke, tegnologiese, teologiese en ander gevolge. Verskillende kenners huldig menings oor die nuwe orde wat na Covid-19 gaan heers. Lees gerus die artikels “How the world will look after the Coronavirus” deur verskeie denkers soos John Allen, Nicholas Burns, Laurie Garret en nog ander wat op 20 Maart vanjaar by foreignpolicy.com gepubliseer is.

Asook die artikel deur Andy Crouch, Kurt Keilhacker en Dave Blanchard getiteld “Leading beyond the blizzard”.

Ja, ons politiek en ekonomie kan totaal anders lyk in die toekoms.

Kom ons werk met wat nie gaan verander nie. Kom ons werk met sekerhede. Daar is onveranderlikes en daar is dinge wat kan en dalk gaan verander. Selfs die kerk se strukture, kerkordes, funksionering, nagmaalviering, dope en besluitnemingsprosesse, opsig en tug, leraarspakette ensovoorts kan verander. Al gaan dit dalk ingrypende praktiese veranderings in die kerk en my bediening meebring wat moeilike eise stel, vrees ek nie, want daar is nog steeds sekerhede.

  1. Vir die Christelike kerk is Christus ononderhandelbaar. Sonder Christus is die kerk nie meer ’n Christelike kerk nie. Wat ek weet is dat die evangelieboodskap vir my persoonlik nie gaan verander nie. Jesus Christus is die Here en Verlosser. Johannes 3:16 staan vas. Dié wat met die waarheid verskil begeef homself/haarself vanself buite die Christelike kerk.
  2. Die waardes wat Jesus verkondig het, is nog dieselfde. Afhanklikheid, barmhartigheid, liefde, genade, vergifnis, ensovoorts staan vas. Die waardes verander nie en geld steeds. Dit moet deur die kerk geleer, verkondig en gelewe word.
  3. Die Bybel gaan nog as openbaringsbron vir die Christelike kerk dien. Hoewel die Bybel ’n ou boek is, bly die boodskap nuut en relevant. Die Bybel getuig oor Jesus Christus en daarom sal dit bly. Wat nou ironies genoeg deur ’n onsigbare breinlose virus gedwing word, is ernstige besinning oor hermeneutiek. Hoe lees en interpreteer die Christelike kerk die Bybel as Woord van God? Soos wat die Kopernikaanse omwenteling en Galileo se wetenskaplike waarnemings die kerk se Skrifbeskouing beïnvloed het, sal die Covid-19 dit ook doen. Covid-19 bring nuwe vrae aan die kerk wat nuwe antwoorde vereis.
  4. Mense het nog presies dieselfde behoeftes. Van hierdie behoeftes is lewensnoodsaaklik en ander is ’n voorreg en lekker om te hê. Kos en klere en goed is lewensnoodsaaklike behoeftes. Veiligheid is lewensnoodsaaklik. Sosiale behoeftes gaan steeds bestaan en is belangrik, hoewel nie lewensnoodsaaklik nie. Vir lewenskwaliteit is dit egter baie belangrik. Mense sal steeds wil identifiseer en deel wees van groepe. Mense wil steeds aanvaar word en erkenning kry en behoort. Mense het steeds die behoefte om hulle te onderskei, te presteer en te bemagtig. Die mensdom gaan weer rondom hulle menslike behoeftes wat nog altyd deur alle tye van die menslike bestaan dieselfde gebly het, funksioneer.

Dit is die sekerhede waarmee ons die toekoms ná Covid-19 tegemoet gaan. Eintlik behoort elkeen vir hulleself te kan uitwerk waarop die kerk moet fokus. Verhoudings, verhoudings en nogmaals verhoudings met God en medemens en die natuur het nie verander nie.

Die kerk moet met moed ruimte maak vir baie groter verskeidenheid en verskille in bedienings. Hoewel die kerk gesukkel het om werklik te onderskei tussen randsake en fundamentele sake, word ook die kerk gedwing om nou tussen heilsnoodsaaklike en minder belangrike sake te onderskei. Die kerk word nou ook deur die situasie, deur ’n nuwe konteks, deur praktiese omstandighede gedwing om aanpassings te maak wat ons dalk nooit by ’n Sinode of Algemene Sinode goedgekeur sou kry nie. Dit is na my mening juis een van die kerk se swakhede wat die kerk geloofwaardigheid laat inboet het om randsake tot heilsnoodsaaklike sake te verhef. Meningsverskil en skeurings het meestal vanweë sake gebeur wat nie heilnoodsaaklik is nie. Nou word die kerk gedwing om te onderskei waaroor dit regtig gaan. Wat is fundamenteel en wat nie? Wat is onveranderlik en wat is onderhandelbaar? Die kerk wat verdeeld gaan voortveg oor sake wat op die periferie hoort, gaan eenvoudig verlam raak en sterf. Dit het eintlik reeds pre-Covid-19 begin gebeur. Dalk is die mens tog self die probleem in die kerk en die virus ’n “vaksine” wat ons op koers kan kry.

Alles gaan waarskynlik aanpas en verander en tog gaan dit wat regtig saakmaak dieselfde bly. Die kerk het post-Covid-19 dieselfde roeping met moontlik ander strukture, prosesse en bedieningstyle.

  • Dr Pieter Dorey is ’n leraar by Kruisgemeente NG Kerk Hoedspruit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top