Hoe lyk begrafnisse wanneer ander nie daar kan wees nie?

Vir ’n lang tyd het ons nie nodig gehad om te dink oor ’n samelewing en ’n manier van lewe waar ons fisiese teenwoordigheid ’n bedreiging is vir die mense rondom ons nie. Ons kon aan die lewe deelneem in sowel die fisiese as die digitale wêreld, en hierdie deelname was tot ’n mate sonder perke. Dit wat goed is van elke spasie het ons behou en daarom is die inryteaters dood en kyk ons nou Netflix in die gemak van ons sitkamer.

Met die huidige omstandighede word ons gedwing om nuut en anders te dink oor baie van die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het in ons daaglikse lewe. Een van daardie dinge is begrafnisse. Ek gaan my nie hier uitspreek oor die fisieke bymekaarkoms vir die begrafnisliturgie nie. Die rede hiervoor is dat amptelike inligting skaars en onbetroubaar is en hierdie nie ’n forum is vir dié tipe dokumentasie nie. Hier gaan eerder riglyne gebied word om ’n holistiese verstaan van die dood, rou en gepaardgaande rituele te bevorder.

Die uitdaging – “the crafting of grief”

In Lorraine Hedtke en John Winslade se boek The crafting of grief kyk hulle vanuit ’n pastorale en sielkundige oogpunt na die konteks rondom die dood. Hulle werk is gebaseer op fisiese ruimtes, maar van die teorieë wat hulle gebruik staan los van die konteks van spasie.

Die dood en gepaardgaande rituele is onder andere ’n sameloop van duisende stukkies storie. Dit is ’n beginpunt en ’n eindpunt, vir ander ’n godsnarratief, en weer vir ander ’n ontologiese en epistemologiese draaipunt. Die liturg tesame met die begrafnisliturgie en haar rituele doen baie dinge, maar een van die belangrikste dinge wat gebeur is dat ’n plek geskep word waar al die stories wat hierbo genoem is die geleentheid kry om verder te ontwikkel (of te eindig).

Tans is hierdie die uitdaging, hoe skep ons hierdie rituele spasie vir mense as ons nie fisies bymekaar kan kom nie? Om te begin werk na ’n plek waar ons beter verstaan kyk ons na twee aspekte van die proses “the crafting of grief”.

Lidmaatskap (membership)

Hierdie is nie net ’n fisiese lidmaatskap nie maar eerder ’n sosiale lidmaatskap. Elke mens behoort aan sekere groepe soos gesinne, families, vriende, kollegas ens. Party van hierdie groepe het meer betekenis as ander en afhangende van die groep se belangrikheid het dit ’n wesenlike invloed op elke lidmaat se identiteit. Wanneer ’n persoon doodgaan, word hierdie lidmaatskapstruktuur verander en kan ’n mens sê dat die groep dan ’n liminale (oorgangs-) posisie beklee. Een funksie van ’n begrafnisliturgie is om ook spasie te maak vir hierdie groepe en lidmaatskapstrukture om nuwe vorm te vind beide vir die identiteit van die individu en die groep.

Hedtke en Winslade verwoord dit as volg: “A person’s membership is held, in life as in death, through the shared stories that live within the membership group. These identities and stories are not the sole property of an individual, as assumed in the modernist definition of the self, but live within the networks or communities. They are a collective remembrance of times, experiences, and shared histories.”

Sonder om te diep in die filosofie te gaan, wanneer iemand doodgaan leef hulle eie en die groepe waarvan hulle deel was, se stories voort. As ’n liturg speel ons ’n kritieke rol in die voortbestaan en herintegrasie van hierdie stories in die identiteit van die individu en groepe wat deur die dood aangeraak word.

Herinnering (memory)

Die begrafnisliturgie en gepaardgaande rituele draai rondom die herinnering van en aan die afgestorwenes en herinner ook die deelnemers aan God se verhaal van verlossing vir die mensdom. Om die dooies te onthou en selfs op ’n manier hulle aan die lewe te hou is algemeen wanneer dit kom by begrafnisse en wat tydens en daarna gebeur.

Met die gewildheid van sosiale media en die gebruik daarvan om amper elke deel van ons lewe te deel met die groepe waaraan ons behoort, het die manier waarop ons onthou ook verander. Ons onthou op meer plekke as ooit tevore en toegang tot ons herinneringe is meer openbaar as ooit tevore.

Hedtke en Winslade som dit goed op deur te se: “Who is remembering what version of the past and to which end? The importance of sociological concerns is its emphasis on the social organization and mediation of individual memory. Although it is the individual who is seen as the agent of remembering, the nature of what is remembered is profoundly shaped by ‘what has been shared with others’.”

Dus is dit duidelik dat herinneringe aan en van die dooies noodsaaklik is vir die identiteit van individue en groepe en dat die tradisionele begrafnisliturgie plek maak vir mense om te onthou, en dan voort te gaan en te deel.

’n Paar wenke

In die lig van hierdie twee belangrike dimensies van rou en ritueel sal ek ’n paar wenke waag.

  1. Indien daar wel ’n fisiese begrafnisliturgie gaan plaasvind, probeer om so min as moontlik mense daar te hê. Probeer hou by die mense wat die naaste is aan die afgestorwene.
  2. Stream die begrafnisliturgie. In die afgelope paar weke moes gemeentes oor die hele wêreld vinnig gewoond raak aan die nuwe omstandighede en dienste is digitaal uitgesaai. Dieselfde kan geld vir ’n begrafnisdiens en dit kan selfs privaat gedoen word deur gebruik te maak van die uitnodigingfunksionaliteit wat baie van die streaming platforms het.
  3. Van hierdie platforms beskik ook oor ’n “chat” funksionaliteit. Dit is ’n deel van die program waar mense tydens ’n stream boodskappe kan tik wat almal kan lees en op reageer. Tradisioneel het begrafnisdienste ’n gedeelte waar mense vorentoe kan kom om hulle stories van rou of blydskap te deel. Die liturg kan vra dat mense hulle boodskappe in die “chat” gedeelte tik en dit voorlees as deel van die liturgie.
  4. Een van die eerste plekke waar mense gaan om hulle lidmaatskap en herinneringe te deel is sosiale media. As deel van ’n digitale liturgie kan daar spasies op Facebook, Instagram of enige van die ander platforms geskep word waar mense op ’n rituele wyse kan deelneem aan die liturgie.
  5. Facebook is waarskynlik die maklikste. Indien die afgestorwene ’n Facebookblad het kan hierdie blad vooraf verander word in ’n gedenkblad. Mense kan hierdie dan ook gebruik as ’n plek om op ’n rituele wyse te onthou, rou en bemoedig.
  6. In tye soos hierdie word ons uitgedaag om met kreatiewe oplossings na vore te kom, en as liturge moet ons nuwe spasies skep waar mense iets van God en ander kan beleef. “The crafting of grief” is iets wat nog altyd op ons tafels was, maar nou het dit ’n nuwe konteks gekry.
  • Dr Nicolaas Matthee se proefskrif het gehandel oor kuberbegrafnisse. Hy is as proponent betrokke by die NG gemeente Pretoria-Oosterlig.