Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ek en Tom Smith gesels by Fontainebleau Gemeenskapskerk in Randburg waar hy tans proponent is en hopelik binnekort bevestig gaan word as diensleraar. Nie hy of Schalk van Heerden, die ander ou wat pas gelegitimeer is as proponent, sou ’n paar jaar gelede kon raai dat hulle vandag NG Kerk-mense sou wees nie.
’n Klomp dinge het hier by Fontainebleau Gemeenskapskerk met Tom gebeur. Toe hy ’n tiener was het hy een aand by ’n jeug-koffiekroeg van die gemeente tot bekering gekom.
In graad 11 het hy geweier om belydenis van geloof af te lê en in matriek is hy onder sensuur geplaas wat ’n klomp moeilikheid met die kerk en die hoërskool, waar hy pas as hoofseun verkies is, tot gevolg gehad het.
Tom het besluit om AGS-teologie te gaan studeer by die destydse RAU en ’n jeugpastoor geword. Later verhuis hy en sy vrou Lollie na die VSA waar hy vir ’n tyd lank in ’n gemeente dien. Dit was ’n wonderlike tyd, vertel Tom, maar hy het al meer begin terug verlang na Afrika.
Op ’n dag besluit hy en Lollie dit is tyd om terug te kom Suid-Afrika toe. Hulle het in Johannesburg gaan woon waar hulle gehelp het om ’n multikulturele gemeente in Cosmo City te begin. Tom het saam met van die ander betrokkenes kursusse begin aanbied om gemeentes te help om oor kultuurgrense heen kerk te wees.
’n Paar jaar later woon Tom ’n kontemplatiewe stilwordgeleentheid by Fontainebleau Gemeenskapskerk by en kry ’n gevoel dat hy weer betrokke moet raak by die gemeente.
One thing led to another en nie lank daarna nie is hy terug en nou sit ons hier en koffie drink by die nuwe koffiewinkel van Fontainebleau Gemeenskapskerk. ’n Vol sirkel.
As Tom vandag terugdink is hy dankbaar vir sy ervarings met die uiteenlopende mense wat hulleself sien as deel van God se liggaam.
Tom het sy meestersgraad gedoen by Tukkies oor die Vroeë Kerk se sienings rondom rykdom en armoede. Toe ek hom hieroor uitvra verwys hy na die kerkvader, Klemens van Aleksandrië, wat geworstel het met die vraag: Kan iemand wat ryk is hemel toe gaan?
“Jy kan jou in vandag se manier van kerkwees nie eens indink dat iemand daai vraag sal vra nie,” sê hy, “maar vir die Vroeë Kerk, en frankly vir Jesus, was rykdom en armoede sake van groot geestelike belang.”
Ek het hom gevra waarom die groot, ryk, magtige kerk met al die hulpmiddels vandag soveel minder regkry as die klein, weerlose, onwettige kerk sonder vryheid van spraak in die eerste drie eeue. Rykdom en mag maak dat ’n mens fokus verloor, sê Tom.
As ons baie het om te verloor, is ons geneig om eerder te wil beskerm en bewaar as om te waag en om te gee en te beweeg.
Volgens Tom gaan die kerk in die toekoms, soos sy meer en meer mag en gewildheid begin verloor, voor die uitdaging staan van die vraag: “Gaan ons aan die bietjie wat ons oor het probeer vashou, net salarisse betaal en probeer oorleef (en ons teologie daarby aanpas), of gaan ons daarop fokus om in te val by God se wilde avontuur en weer die vroeë kuns van eenvoudige kerkwees herontdek?”
“Om van Jesus te weet en vir Jesus te volg is twee verskillende dinge,” sê Tom. Om Jesus te volg was nog altyd ’n hoë risiko avontuur.
As deel van sy graad het Tom ’n klomp mense ’n vraelys laat invul oor rykdom en armoede vandag in Suid-Afrika en oor waar hulle hulleself sosio-ekonomies sou plaas.
Een van die dinge wat hom verstom het, is dat ryk mense nie weet hulle is ryk nie. Die meeste mense sou bloot sê hulle is “maar net middelklas” en hulleself selfs ’n bietjie jammer kry al gaan dit eintlik finansieel buitengewoon goed met hulle.
“Die middelklas het ’n wegkruipplek geword vir die meeste Afrikaners,” sê Tom, “want as ek my as ‘middelklas’ identifiseer, kan ek myself verontskuldig van al daai radikale goed wat Jesus vir ryk mense gesê het.”
Die probleem is dat as jy nie weet jy is ryk nie, jy geneig is om te moan en te kla en jouself selfs as ’n slagoffer te sien, terwyl jy eintlik veronderstel is om besig te wees met ander vrae en hopelik te besef watter groot potensiaal en verantwoordelikheid jy het om ’n verskil te maak.
Iets wat my opval is Tom se eerlikheid oor sy eie worsteling met hierdie dinge. Hy praat nie van bo af nie, nie soos iemand wat al die antwoorde het nie, eerder iemand wat ’n probleem raaksien. Nie as iemand wat gearriveer het nie, maar eerder as ’n ou wat met homself en die wêreld probeer eerlik wees, wat saam wil soek en worstel en weer ’n keer probeer.
Teen die einde van die gesprek vra ek vir Tom wat hom hoop gee. Wat motiveer hom om aan te hou? Die idee van God se wilde-koninkryk-avontuur, sê hy, en die groot groep jong leiers wat hy orals in die kerk in Suid-Afrika raakloop wat opgewonde is om deel te wees daarvan.
“Die versoeking is groot om net shop te close as ’n geestelike leier en bloot kerkmense te sus, maar die hoop wat daar is, is in soveel communities wat hierdie wilde Messias volg en sê ek join hierdie mission! Lekker stuff.”