Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Covid-19: Geleenthede én ongemak van ‘eredienslose’ tyd

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


“Wat presies maak dan van ’n erediens ’n erediens,” vra Dieter de Bruin. 

Tydens hierdie pandemie stel ons nie eredienste af nie. Ons het juis in hierdie tyd die geleentheid om die evangelie uit te dra op ’n kreatiewe manier – ’n sentiment wat mens dikwels in hierdie tyd hoor. Op sosiale media en ander platforms word eredienste digitaal gestroom.  Dit gaan gereeld gepaard met kreatiewe voorstelle oor hoe die erediens tuis gevier kan word.

Maar wat as ons vir mekaar sê dat ons in hierdie tyd wél eredienste afgestel het?

Hoe dan so? Die Woord word verkondig, daar word gebid, gesing en selfs dankoffers gegee. Ofskoon hierdie eg en inspirerende insette van onskatbare waarde vir gelowiges in ’n krisistyd is, kan dit nog nie noodwendig as eredienste beskryf word nie.

Wat presies maak dan van ’n erediens ’n erediens? 

Hierdie vraag sou mens op verskeie maniere kon antwoord, maar een moontlikheid sou wees om te sê dat die erediens die plek is waar God se mense biddend rondom die doop, die Bybel, en die nagmaalstafel byeenkom. Die onlosmaaklike samehang van hierdie elemente was – en is vir die grootste gedeelte van die Christelike tradisie nie eers ’n kwessie nie. En hoewel mens dalk sou wou aanvoer dat die nagmaal byvoorbeeld digitaal gevier kon word, aanvaar ons hier vir ’n oomblik dat die eenheid tussen Woord en sakrament nie virtueel bemiddel kan word nie.

Wat bereik mens dan deur so oënskynlik negatief te wees in ’n reeds uitdagende tyd vir die kerk?  

Ons het pas ’n vreemde, gestroopte lydenstyd en Pase ondergaan. Die vervlegtheid van gebrokenheid en heelheid, kruis en opstanding kan ons die moed gee om die werklikheid in die oë te kyk. Miskien is deel van die pyn wat ons nou moet verwerk dat ons, vanuit ’n sekere perspektief, nie eredienste kán vier nie.

Liturgie van die lewe

Hierdie grendeltyd gee geleentheid vir kritiese refleksie oor die wêreld waarin ons leef en ontleders begin reeds nadink oor hoe die wêreld anders gaan lyk (en reeds is).  Deur ten volle die ongemak van hierdie (erediens-lose) tyd te betree kan ons help om met dringendheid die vanselfsprekendhede van ons liturgiese lewe te bevraagteken en om met erns na te dink oor hoe ons eredienste ná die inperking kan lyk.

’n Kleinood wat gedurende hierdie tyd herontdek is, is die “liturgie van die lewe” wat veral ook in huishoudings ontwikkel en gekoester kan word. Mag die kreatiewe werk op hierdie terrein van krag tot krag gaan.

Die pyn van hierdie tyd kan ons egter ook moeilike vrae laat vra oor die “virtuele” aard van ons eredienste vóór die grendeltyd – eredienste hoofsaaklik gefokus op die preek, die musiek, en natuurlik die skerm.

Dalk sal hierdie tyd ook ’n klaagkreet in ons laat groei: hoe op dees geliefde aarde is dit moontlik dat toe ons kón, ons Sondag na Sondag laat verby gaan het sonder om die Liggaam van Christus in ontvangs te neem?

  • Ds Dieter de Bruin is predikant by NG Gemeente Pretoria-Faerie Glen.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top