Geen eredienste beteken geen tradisionele kollekteopname en talle NG gemeentes sien reeds die finansiële effek op hulle boeke wat ’n groot impak kan hê op organisasies wat op hulle beurt deur gemeentes ondersteun word.
Ds Gert Victor, predikant by NG gemeente Harrismith sê dat hulle reeds ’n 20% daling in inkomste beleef. “Ons ervaar definitief al ’n effek. Die kollekte word gewoonlik aan verskillende organisasies en bedieninge in die gemeente geskenk. Die donasies moet steeds aan die organisasies gemaak word. Die unieke uitdaging is dat die geld nou uit ander bronne gegenereer moet word aangesien daar nie eredienste is nie. Maar ek moet óók byvoeg dat die elektroniese bydraes wat ons in die WhatsApp-groepe vra elke week vermeerder,” vertel Victor.
By die makrogemeente NG Kempton-Hoogland, vertel dr Neels du Randt dat hulle beslis einde April ’n effek sal voel omdat baie mense hulle inkomste gaan verloor. Du Randt brei uit: “Ons moedig kollektes met EFT en Snapscan aan, maar ons verloor die kollekte van die ouer mense. Hulle hou daarvan om steeds soos oudergewoonte hulle rande in die bordjies te gooi,” sê Du Randt.
Ook op die Noord-Kaapse platteland is ds Bianca van Graan, leraar by NG gemeente Kenhardt, bekommerd. “Ons het nog nét die maandelikse dankoffers wat met aftrekorders inbetaal word ontvang,” sê Van Graan. Sy voeg by dat dit ’n groot bekommernis in die gemeente is omdat hulle reeds weens die droogte finansieel swaarkry.
Tog meen prof Johan van der Merwe dat lidmate en leraars in hierdie tyd kan leer om nuut te dink oor geld, wat volgens hom een van die grootste taboes in die kerk is. Van der Merwe, ’n professor in Kerkgeskeidenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria, sê dat die ekonomiese krisis hand aan hand met die kononavirus-pandemie loop en die gesprek rondom geld in die kerk nie ontduik kan word nie. “Die meeste gemeentes van die NG Kerk spandeer tussen 65 en 75% van hulle inkomste aan die vergoeding van personeel, wat nie uitsonderlik is vir ‘diensorganisasies’ nie,” skyf Van der Merwe in sy onlangse rubriek in Kerkbode. “Dit beteken egter dat die vergoeding van personeel te midde van dalende dankoffers gouer as later ter sprake gaan kom. Die uitdaging is om met groot verantwoordelikheid en openhartigheid deurlopend met personeel te kommunikeer. Tydelike aanpassings in vergoeding soos wat ons tans oral in die wêreld rondom ons sien, mag dalk aan gemeentes broodnodige finansiële beweegruimte bied en hulle help om te oorleef. Miskien kan predikante selfs hierin ’n voorbeeld stel en kan dit ’n groter getuienisgeleentheid word as wat ons ooit kan droom – om te wys wat dit beteken om elke dag vir die dag se brood te bid.”
