Ons sal nuut moet dink en praat oor dié taboe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Covid-19-pandemie gaan elke gemeente van die NG Kerk dwing om nuut te dink en te praat oor een van die grootste taboes in die kerk – geld! Dit is mos die een onderwerp waarvan baie predikante en lidmate wegskram. Predikante wil nie daaroor preek nie en lidmate wil dit ook nie hoor nie. Die ekonomiese krisis wat hand aan hand met die pandemie loop, maak egter dat hierdie gesprek nie ontduik sal kan word nie.

Dit is ’n gesprek wat by die predikante moet begin. Gemeentepredikante sal opreg moet meevoel met lidmate wat voorheen ekonomies onafhanklik was maar wat skielik met werklike nood worstel. Hulle sal in die huis van mense wat skielik nie kos het nie, nie data kan koop nie en nie skoolgeld kan betaal nie, moet instap, Hulle sal tyd moet spandeer en die taal van deernis moet praat. As geestelike leiers sal hulle die gesprek oor konkrete hulp in ’n tyd soos hierdie ook op elke forum in gemeentes op die tafel moet kry – selfs te midde van persoonlke finansiële onsekerheid. Soos ds Francois Retief, uitvoerende amptenaar van Oostelike Sinode dit tereg stel: “Die toets vir missionale kerkwees begin eintlik nou eers. Dit is maklik om oor missionaliteit te praat as jy baie het, gemaklik is en so nou en dan iets gee. Hierdie gaan in baie gemeenskappe iets heeltemal anders moet word.”

Die pandemie raak egter nie net gemeentelede nie. Gemeentebegrotings gaan toenemend onder druk wees. Die meeste gemeentes van die NG Kerk spandeer tussen 65 en 75% van hulle inkomste aan die vergoeding van personeel, wat nie uitsonderlik is vir “diens-organisasies” nie. Dit beteken egter dat die vergoeding van personeel te midde van dalende dankoffers gouer as later ter sprake gaan kom. Die uitdaging is om met groot verantwoordelikheid en openhartigheid deurlopend met personeel te kommunikeer. Tydelike aanpassings in vergoeding soos wat ons tans oral in die wêreld rondom ons sien, mag dalk aan gemeentes broodnodige finansiële beweegruimte bied en hulle help om te oorleef. Miskien kan predikante selfs hierin ’n voorbeeld stel en kan dit ’n groter getuienisgeleentheid word as wat ons ooit kan droom – om te wys wat dit beteken om elke dag vir die dag se brood te bid.

Die Covid-19-pandemie kan vir gemeentes van die NG Kerk ’n finansiële ramp word, of dit kan ’n geleentheid wees om te wys wat kerk-wees regtig beteken. Om die ramp te vermy sal ons gouer as later in elke gemeente eerlik oor die taboe moet praat.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.