Chris Roberts (1928-2020)

Op 29 April 2020 is ds Christian Stephanus Roberts (92) aan hartversaking in Bellville oorlede. Chris is op 15 Oktober 1928 gebore in die distrik Boshof. In 1949 matrikuleer hy in Kimberley en na sy BA-graad word hy student aan die Teologiese Seminarium te Stellenbosch en word einde 1962 gelegitimeer. Hy bedien die NG gemeentes Oos-Londen-Wes, (1963-1967), Kemptonpark-Noord (1967-1975) en Zwaanswyk (1975-1984) in Kaapstad se suidelike voorstede. Ds Chris is van 1984 tot met sy aftrede in 1994 leraar van die NG Sinode in Wes-Kaapland se Barmhartigheidsdiens. Hy trou in 1954 met mej CJ Naude en uit die huwelik is vier kinders gebore. Sy is in 1995 oorlede. Hulle seun Gert Ro­berts word predikant in die NG Kerk.

Na sy aftrede word Chris ’n inwoner van Chrismar Villas, ’n aftreeoord in Bellville. Tot in sy 90ste jaar is hy voorsitter van die beheerraad en tot voor die inperking het hy nog die weeklikse gebedsbrief van die NG Gemeente Bellville-Oos versorg. Hy was ’n mentor en vriend vir almal.

Ds Chris Roberts het die kuns verstaan om te luister, maar om te praat wanneer hy nie moes stilbly nie. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM

  • Hierdie berig is ná publikasie aangepas om ’n fout reg te stel. – Red.