Hierdie werk moet die kerk mos celebrate!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek was in ’n klein laerskooltjie in die laat 90’s. Vir enige straf moes ons papiere optel. Ons het altyd gewonder waar die hope papiere ­van­daan kom. Die storie wat op die stoepe geloop het was dat juffrou Linda na snoepietyd die oorskot hotdog-sakkies juis sou hou vir wanneer meneer Botha dié straf moes uitdeel. Ons is konstant deur ons ouer boeties herinner hoe lucky ons was dat lyfstraf gestop is. Teen opteltyd het ek nooit lucky gevoel nie.

Soos die pliggie wat ek was wou ek egter altyd die meeste papiere optel om die juffrou te beïndruk. Een dag was my ma (nog steeds die beste graad 2-juffrou in die wêreld) aan diens. Sy vra my: “Is die beloning nie soveel groter om pa­piere op te tel dáár waar niemand jou kan sien nie?” Dit was my eerste groot les in etiek, wat ek gedink het ek vir altyd sou onthou. Ek het hierdie her­in­nering egter verlede week vir die eerste keer herroep.

Ek lees in die Republikein van 22 April 2020 hoe ’n jong, werklose dame in die dorp se informele nedersettings vir 18 huishoudings kospakkies saam­gestel en uitgedeel het. Haar woorde “Ek is al vir vyf jaar werkloos, maar ek het besef ek is nog steeds beter af as baie ander mense in die land.” Natuurlik is ek dankbaar, dit is ’n ongelooflike mooi storie. Ek kan egter nie help om te wonder hoekom ons eie gemeente se verhaal, waar honderde huisgesinne gevoed en volhoubaar ondersteun word, nie die koerante haal nie.

Ek wonder al lank oor hoekom die NG Kerk so stil is oor haar barm­hartigheidsdienste. Tot my skaamte het ek in my gemeentejaar (2018) vir die eerste keer gehoor van die enorme by­drae wat die NG Kerk tot maatskaplike dienste maak. Ek was geskok om te hoor oor die miljoene rande se skenkings en honderde bedieningspunte. Ek onthou die warm en trots gevoel om deel te wees van só ’n liggaam.

Dit is dalk nie oral dieselfde nie, maar op ons dorp lyk dit my sit ons met ’n stuk (dalk oordrewe?) beskeidenheid. Die probleem is dat ons niks van die goeie werk wat ons doen deel nie, soms nie eens aan ons eie gemeentelede nie. Hoe moet die land se mense, selfs gelowiges, opgewonde wees oor die NG Kerk se bydrae as hulle fisies nie eens daarvan weet nie?

Verskoon asseblief my taal, die tie­ners se verengelsde geloofstaal smeer op my af. Ek dink ons moet ons goeie nuus celebrate! Is dit nie juis die evangelie om goeie nuus, ook letterlik, te deel nie?

Sorry, Ma, ek dink ek gaan maar juffrou Linda se oorskot hotdog-sakkies voor die koerantverslaggewers begin optel.

Ds Marco Koch is leraar by NG ge­meen­te Eros, Windhoek.