Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Alhoewel ds Rudi Swanepoel hierdie brief vir alle tieners geskryf het, het hy die brief ook vir sy 17-jarige dogter Tineke, wat vanjaar in graad 11 is, geskryf. Foto: Verskaf

Brief aan ’n tiener: ‘Al verloor jy baie, kry jy méér by’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

My liewe Tiener

Goeiste. Ek kyk jou só en ek kan nie glo dat jy (en ek!) in ’n tyd soos hierdie lewe nie. Wie sou kon dink.

Ek sukkel ’n bietjie om woorde vir alles te kry, daarom gebruik ek maar die geduld (en die delete-knoppie) van die rekenaar om met jou te deel wat op my hart is.

Aan die een kant, wil ek skryf dat ek jammer vir jou is. Jammer oor die matriekafskeid, die socials wat jy mis, die netbal- en hokkie- en rugbyseisoen, die tienertoneel en die koorkompetisies. Die grappies.

Ek wonder of jy daai lekker lang saalopeninge mis waar die hoof alles so benadruk en julle in lyn probeer hou met elke greintjie krag in sy lyf en sy stem.

Ek is so ontsettend jammer dat jy nie jou vriende sien nie. Ek wéét hoe belangrik hulle vir jou is, hoe hulle jou eerste ‘port of call’ in hierdie lewensfase is, hoe júlle mekaar genuine verstaan. En jou mis. Dit, verstaan ek.

Jy beleef eintlik ’n hele rits verliese. En al klink dit snaaks: Dis nie net ’n slegte ding nie.

As dit vir jou enigsins ’n troos is: Hierdie verliese berei jou voor, want jy gaan nog baie keer dinge en tye en mense en ervarings verloor. Jy gaan voel jy mis uit (wanneer al die ander weer fun het), jy gaan voel jy raak agter (as jou maats maats vind en uitgaan en trou), jy gaan voel jy kan nie kry wat hulle het nie.

Nou léér jy dat dit OK is. Dat jy kan doen wat jy nie gedink het jy gaan kan doen nie. Dat jy dit dieper in die see van onsekerheid in kan waag as wat jy voorheen vermoed het. Dat jy sterk is. Jy leer dat jy kan aanpas, dat jy jou kop om moeilike goed kan kry, dat daar binne-in jou ’n standhoudende vuur brand waarnatoe jy keer op keer kan teruggaan vir nog. En weer. Jy het meer deernis met maats en met kinders wat nie so bevoorreg soos jy is nie.

Jy wys dat jy kan.

Daarom: Al verloor jy baie, kry jy méér by. Dit wat jy bykry, is baie werd; nie noodwendig vir vandag of môre nie, maar vir die res van jou lewe.

Ek bewonder jou. Jy IS nie net OK nie, jy gaan OK wees.

Met oneindige liefde,

Jou pa

Rudi

Hierdie brief deur ds Rudi Swanepoel is oorspronklik op Facebook gepubliseer en word hier met sy toestemming herpubliseer. – Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top