Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ou antwoorde op hierdie vrae sal nie help nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In die 1930’s ontvang ’n senuweeagtige student van Princeton Universiteit sy eksamenvraestel.

Hy voel effens verward. ’n Oomblik van déjà vu oorval hom, want alles voel net té bekend, en hy wonder: “Kan dit wees dat die welbekende, gerespekteerde Albert Einstein dieselfde vraestel sal herhaal?”

Die jongman konfronteer sy dosent na afloop van die toets en vereis ’n verduideliking, waarop die dosent antwoord: “Jy’s 100% korrek, die vrae is dieselfde, maar vanjaar is die antwoorde anders.”

Daar is ’n versteekte waarheid in Einstein se reaksie wat my laat dink aan die kerk te midde van ons huidige omstandighede: ons rol, ons roeping en die werklikheid van dít wat vir ons voorlê in die toekoms.

Die vrae is gelykstaande aan ons opdrag as dissipels – die verkondiging van die evangelie.

Dit bly onveranderd.

Hoe ons reageer om voortdurend te evangeliseer in ’n uitdagende tyd soos dié, verg innovering en kreatiwiteit!

Ek beleef iets van hierdie vars uitdrukking van geloof tydens ’n kuber-kerk-kuier.

’n Groep leiers van Echo-jeugontwikkeling het dit goedgedink om ’n ‘Zoom’-erediens te hou vir die inwoners van hulle 13 huise wat wyd verspreid lê regoor die land. En was dit nie onvergeetlik spesiaal nie! Kom ek verduidelik.

Predikante van oraloor in Suid-Afrika (Niel Steyn, Sherlize Heys, Chris de Vries, Jaco Strydom) en NG Kerk-geaffilieerde sendelinge in Indië (EJ en Sané Leach) het die erediens gelei.

Aubrey Thompson, ’n Echo-leier, deel ’n kragtige getuienis oor God se teenwoordigheid tydens die inperking en ds Jaco Strydom preek oor Gods genade uit 2 Korintiërs 12:9. Hy vertel dat genade hom toelaat om God te beleef selfs, en veral, in tye van nood en swaarkry. Hy gesels oor sy eie vrese en hoe God hom al telkemale gedra het deur periodes van rou en seerkry.

En net so voel die wêreld en sy probleme skielik klein as ons weer die fokus op God plaas.

Saam met gelowiges in ‘kuber-kerke’ regoor die wêreld beleef ek opnuut hoe die Gees van God ons roep om die wynsakke te vervang. Die inhoud bly dieselfde, maar ons moet werk aan die antwoorde – kreatiewe antwoorde wat mense met hoop vul.

Dus, net soos met Einstein se reaksie hierbo, vereis die uitdagings van die huidige tydsgewrig dat ons van nuuts af oor kwessies en krisisse moet besin om by antwoorde uit te kom wat nóú sal werk ten einde effektiewe oplossings te verskaf. Ou antwoorde (en reaksies), wat tóé heeltemal goed gewerk het, is nie meer van toepassing nie.

Mag ons kerk hierdie toets slaag.

  • Ds Erick du Toit bedien tans in Skotland deur die Church of Scotland maar probeer ten alle tye op hoogte bly van verwikkelinge in die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.