Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die gevaar van selfliefde

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In die aangrypende TV-reeks Little fires everywhere (2020), gebaseer op Celeste Ng se boek met dieselfde titel, word die tema van ’n ma se liefde op ’n wonderlik komplekse wyse – met fyn aanvoeling, en geen voor-die-hand-lig­gende antwoorde of eenvoudig regte en verkeerde partye nie – op die tafel ge­plaas. Wat is ’n ma? Wie mag ’n ma wees, en wie nie? Wie het ’n reg op hulle kinders – en wie nie? Hoe – en wie – behoort ’n moeder lief te hê? Wie se traumas, en pyn, en ervarings van verlies en gebrokenheid en onsekerheid, is legitiem? Wat is reg, en goed, en regverdig? Wie is reg, wie het reg, wie maak reg? Waar lê die grense aan selfliefde en selfhandhawing? Wie is ‘ons eie’? Wie het ons lief soos wat ons onsself liefhet?

In hierdie onseker en troebel tyd sou dit maklik wees om petisies te onder­teken, en voorwaardes aan ons hulp aan ons naastes te stel, en krities te wees teen­oor die regering, en ons oor te gee aan die versoeking om (alleenlik? hoofsaaklik?) na ‘ons eie’ om te sien. Dit sou heeltemal verstaanbaar wees om ons, in die woorde van die Hervormingsdaggetuienis (2017), oor te gee aan die kragte en magte wat ons wil laat terugtrek in nouer verbande van bloed en groep. Ons sou oënskynlik vroom regverdi­gings hiervoor kon bied, waarin ons die noodsaaklikheid van selfbehoud en self­handhawing, van selfliefde en selfsorg en selfsug, verdedig. Ons sou dit kón doen, en (té) dikwels dóén ons dit ook. Maar behóórt ons dit te doen?

Op 14 en 21 Augustus 1974 onderskeidelik publiseer Kerkbode twee bydraes van prof Willie Jonker oor self­liefde en selfhandhawing. Hy begin sy eerste bydrae met die opmerking: “Dit is verbasend dat daar onder ons nog so baie mense is wat op ’n verwarrende ma­nier die standpunt voorstaan dat die Bybel ons sou gebied om onsself lief te hê en te handhaaf. Dit word gebaseer op die uitspraak in die dubbelgebod van die liefde wat lui dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.” Die probleem met so ’n eensydige – dalk selfs verdraaide – lees van die gebod om ons naaste lief te hê, is dat ons hande so vol raak met selfliefde en selfhandhawing dat ons ook nie juis uitkom by die eintlike opdrag om ons naaste lief te hê soos onsself nie.

Jonker beroep hom op die Hervor­mer Johannes Calvyn, wat wys op die blote gegéwe van selfliefde: Dit is soos ’n vuurtjie wat vanself al helder genoeg in ons brand, skryf Jonker, en hoef daarom hoegenaamd nie verder aangeblaas te word nie. Ons sou kon sê dit sit eenvou­dig in ons bloed. Die dubbele liefdes­gebod is tog nie ’n driedubbele liefdesgebod nie. Indien ons gebied is om onsself lief te hê sou ons inderwaarheid drie (nie twee nie) liefdesgebooie ontvang het. Die regverdiging van ’n plig tot self­liefde – soos ons dit teëkom in die denke van sekere teoloë, soos die kerkvader Augustinus – is, volgens Calvyn, onsinnig; en sou, volgens Jonker, “eintlik nie inpas in die kader van Gods liefdesgebod nie.”

Hierdie bydraes sou binne die NG Kerk wyd kritiek en polemiek ontlok, veral na ’n bydrae tot Kerkbode deur prof Johan Heyns in September 1974, waarin hy die legitimiteit en belangrikheid van selfliefde sou regverdig. Enkele weke later, in Oktober 1974, sou die Algemene Sinode van die NG Kerk die verslag Ras, volk, en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif aanvaar, en daarmee Bybelse regverdiging bied aan die apartheidsbeleid.

Die gevaar vir ons, in ’n tyd waarin ons gevra word om te dink aan ander – ons naastes, ons medemense, wat in lang rye staan vir kospakkies en staats­hulp en gesondheidsorg – sou wees om ons naasteliefde te wil temper; om eers ons ‘naaste’ naaste te help, en eer­der ons voorkeurhulp te oormerk vir mense wat soos ons lyk en dink en leef. Dit sou allesbehalwe moeilik wees. Dit is juis hoe gevaarlik máklik dit vir ons sou kon kom wat ons diep moet laat nadink oor al die wonderlik selfregverdigende verskonings wat ons sou kon aanbied om ‘ons mense’ éérder – of, indien nie eerder nie, dan ten minste éérste – te help.

“In die hele wêreld heers die self­liefde, selfsorg en selfhandhawing op ’n ongebreidelde wyse. Dit is niks Christeliks nie.” Só skryf Willie Jonker in sy Kerkbode-bydraes in 1974. Elders, in sy ‘Gesprekke in die nag’, skryf Jonker dat die Hervormer Martin Luther “doodsbenoud daarvoor is om die woorde dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself in die samevatting van die wet op te neem as ’n gebod tot selfliefde.” Dit is immers juis hierdie gesindheid – van ingeboë wees in onsself (incurvatus in se) – wat vir Luther sy voltooiing in die hel vind.

Die gevaar van selfliefde is dat dit vir ons so maklik sou kon kom in hierdie dae.

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.