Here, dat ek kan sien

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die Evangelies het “sien” verskillende betekenisse. Soms staan dit teenoor die geestelike blindheid van mense wat nie kan sien wie Jesus werklik is nie. Die meeste van die tyd gaan dit egter oor die fisiese vermoë om te kan sien.

Ek dink egter een van die heel belang­rikste dinge wat ons in die verha­le oor Jesus lees, is oor die mense wat Hy raaksien. Dit is tog ’n baie mooi uitdrukking: “om raak te sien” – om nie maar net in die verbygaan te sien nie, maar bewustelik te sien. In die Evangelies lees ons ook hoe Jesus méér sien: Hy sien dieper, Hy sien mense se hart en behoeftes raak.

In die wêreld waarin Jesus opgetree het, was daar baie mense wat onsigbaar geword het. Dikwels mense met nood waaraan niemand iets kon doen nie – blindes, kreupeles, Dowes. Ook mense wat die goeie mense eintlik nie wóú sien nie: die sondaars.

Dit is maar so dat ’n mens gewoond raak aan mense se nood en dit later nie meer raaksien nie. Mense word onsigbaar. Maar Jesus sien onsigbares raak. En Hy leer ons ook om onsigbares raak te sien.

Daar is ’n wonderlike verhaal in Lukas van ’n blinde bedelaar naby Jerigo. Toe hy hoor dat Jesus daar verbygaan, begin hy uitroep dat Jesus Hom oor hom moet ontferm. En dan doen Jesus ’n vreemde ding: Hy vra vir die man wat dit is wat hy van Jesus wil hê. Dit is vreemd omdat Jesus mos baie duidelik kon sien dat die man blind is, hoekom vra Hy nog? Maar die man antwoord in geen onduidelike terme nie: “Here, dat ek kan sien.” En dan genees Jesus hom.

Ek dink dit is betekenisvol dat Jesus wil hê hy moet die woorde sê: “Here, dat ek kan sien.”

Miskien is dit in hierdie tyd van Co­vid-19 een van die belangrikste gebede wat ons kan bid: Here, dat ek kan sien. Dat ek soos U sal kan sien …

Dat ek die onsigbares sal raaksien, dat ek nie so vasgevang raak in my eie probleme en uitdagings dat ek blind raak vir die behoeftes van ander nie, dat ek nie gewoond raak aan die beelde van lang toue mense wat vir kos wag nie, dat die mense wat in hierdie tyd dienste lewer nie vir my vanselfsprekend sal word nie. Dat dié wat deur die inper­king uit my gesigsveld verdwyn het, nie ook uit my gedagtes en hart verdwyn nie. Here, ontferm U oor my, dat ek kan sien!

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.