Kerke se dilemma met voedselverspreiding hopelik gou opgelos

Die Suid-Afrikaanse samelewing staan voor baie uitdagings. Sekerlik die grootste uitdaging is die balanseertoertjie hoe om aan die een kant die ekonomie op ’n verantwoordelike wyse oop te maak en aan die ander kant infeksies so laag as moontlik te hou. Te midde hiervan is daar miljoene mense wat op hierdie stadium voedselnood ervaar. Voedselnood is nie net honger mense se probleem nie, maar ons hele samelewing s’n.

Die afgelope maande se tempo van kosverspreiding was in volume waarskynlik die hoogste ooit in Suid-Afrika. Reeds voor die grendelstaat was daar derduisende gesinne met voedselnood, afhanklik vir hulle oorlewing van kerke en ander hulporganisasies. Die grendelstaat het die situasie vir kwesbare mense nog moeiliker gemaak om voedsel te bekom. Hierdie nood is enorm en neem daagliks toe. Die NG Kerk en haar welsynsorganisasies, soos ook ander organisasies en kerke, maak ’n lewensnoodsaaklike bydrae om honger mense van voedsel te voorsien. Kenners is van mening dat die lewering van voedsel deur kerke en welsynsorganisasies dié van die regering ver oorskry.

Lees ook: Die gevaar van selfliefde

Regeringsinisiatiewe het op talle plekke, as gevolg van gebrekkige administrasie en burokrasie, nie aan die verwagtinge voldoen nie. Gerugte doen op ’n gereelde basis die rondte dat korrupsie en nepotisme ’n rol speel sodat voedselpakkies nie hulle regmatige bestemming bereik nie. Daarbenewens is pogings deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en individue soos onderwysminister Panyaza Lesufi van Gauteng geloods om die verspreiding van voedsel op plaaslike vlak te sentraliseer. Dit afgesien van die feit dat daar maatreëls is wat op nasionale vlak geld. Voedselverspreiding sou dan net deur die Department van Maatskaplike Ontwikkeling of die plaaslike munisipaliteit gedoen word en nie meer deur nie-regeringsorganisasies nie. Die redes wat gegee is, wissel, maar sluit in dat dit “beter koördinering” sal meebring en kos eweredig versprei sal word.

In die media is gevalle gerapporteer van kerke en ander organisasies wat verhinder is om direk voedsel aan gemeenskappe te versprei. Die riglyne het gelei tot uitbarstings van frustrasie en het selfs woede by organisasies ontlok wat jare lank al arm gemeenskappe bedien. In sommige gevalle is die maatreëls bloot deur organisasies geïgnoreer, in ander gevalle het organisasies en boere uit protes hulpverlening gestop wat daartoe gelei het dat mense honger ly.

’n Saak wat deur die DA in die Wes-Kaap gemaak is teen die sentralisering van voedselhulp en waarvan ’n hofbevel uitgevaardig is op 22 Mei, bring meer duidelikheid vir die interimtyd. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het die Demokratiese Alliansie (DA) se poging om minister Lindiwe Zulu se voorneme om die verspreiding van voedsel te reguleer teen te staan, uitgestel. Die hof het nie ’n uitspraak gemaak nie maar ’n tussentydse bevel uitgereik wat versprei en gebruik kan word, indien enige teenstand rondom voedselverspreiding ervaar word, tot ten minste 19 Junie.

Lees ook: Belangrike brief aan Kerkbode-intekenaars

Die saak is aanhangig gemaak nadat konsepregulasies oor die verspreiding van voedsel drie weke gelede begin afdwing is. Hierdie regulasies behels die sluiting van sopkombuise en stel streng regulasies oor die verspreiding van kospakkies in. Lede van nie-regeringsorganisasies, wat met voedselverligting behulpsaam was, is ook in hegtenis geneem as gevolg van die oortreding van die konsepregulasies.

Intussen het die hof egter gelas dat die regering nie toegelaat word om te verhoed dat mense hulle bestaande regte uitoefen om voedsel te versprei en te ontvang nie. Die hof het minister Zulu gelas om dit onder die aandag van die amptenare vir maatskaplike ontwikkeling in haar departement en LUR’s in al die provinsies te bring. Die Kommissaris van Polisie is ook beveel om hierdie bevel onder die aandag van alle polisiebeamptes te bring.

Dit beteken dat die verspreiding van voedsel deur nie-regeringsorganisasies vir die volgende vier weke soos normaal kan voortgaan voordat die saak uiteindelik voor die hof kom. ’n Afskrif van die tussentydse bevel kan byderhand gehou word indien ’n gemeente of organisasie inhegtenisname as gevolg van die verspreiding van voedsel sou vrees.

Die tussentydse bevel is by dié skakel beskikbaar.

Op 18 Mei is daar in dié verband ook ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) gelê. Die MRK vat egter gewoonlik lank om tot ’n bevinding te kom. ’n Soortgelyke saak wat deur Helpende Hand geïnisieer word kom op 3 Junie voor.

Die kans dat die regsaksies teen die regulering van voedselverspreiding sal slaag, is baie goed. Die sentralisering van kosverspreiding het geen regskrag nie en kan nie afgedwing word nie. Die reg om regulasies oor die ramptoestand uit te vaardig is deur president Ramaphosa na nasionale ministers toe gedelegeer. Die mag is nie na provinsiale en munisipale amptenare afgewentel nie. Provinsies en munisipale amptenare moet dus met die nasionale regulasies werk. In die nasionale regulasies word dit duidelik gestel dat ’n organisasie wat noodsaaklike dienste lewer, soos kos aflewer, sy eie permitte moet uitreik en goedkeur en ooreenkomstig die nasionale regulasies moet optree.

Kerke wag die uitspraak van die hof op 19 Junie met die verwagting af dat daar sonder enige belemmering voortgegaan kan word om lewensnoodsaaklike dienste aan armes en hongeriges te lewer. Nie-regeringsorganisasies moet toegelaat word om in verantwoordelikheid en sorgvuldigheid te werk waar en hoe hulle moet. Die slegte scenario sal wees waar ’n gebrekkig funksionerende maatskaplike regeringstruktuur funksionerende nie-staatstrukture wil beheer.

  • Dr Gustav Claassen is algemene sekretaris van die NG Kerk.

One thought on “Kerke se dilemma met voedselverspreiding hopelik gou opgelos

  1. Hendrik Labuschagne says:

    Ons het onder ons Gemeente se naam by die Departement Sosiale Ontwikkeling aansoek gedoen om kos te versprei. Ons aansoek is binne 4 werksdae goedgekeur en kon ons ‘n amptelike toestemmingsbrief by die Departement afhaal. Al die voorwaardes daarin vervat is geldig en ons voldoen aan almal. Soms is die direktr aanvraag die moeite werd. Ons projek in Brakpan B4B (Brakpan vir Brakpan) loop nog volstoom en bykans 1800 gesinne bestaande uit ongeveer 6000 persone is reeds van kospakkies voorsien.
    Hendrik Labuschagne, Dalpark Kaléo.

Comments are closed.