LEES EN LUISTER: Die teologie, die letterkunde en die professor

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek onthou hoe baie van my klasmaats destyds gefrustreerd was omdat hulle gedurig die vraag moes beantwoord: “Nou waarom het jy besluit om teologie te swot?” Niemand vra die vraag vir iemand wat ingenieurs­wese of bemarking of regte studeer nie, het hulle geredeneer.

Persoonlik dink ek dis ’n erg goeie vraag en ek het besluit om die vraag vir Cas Wepener te vra.

“Ek sê graag vir die studente in my klasse, julle is almal weird, want hulle is, en dit sluit my in!” sê Cas. “As jy uiteindelik in teologie beland het, beteken dit daar lê ’n besonderse storie in jou, agter jou en om jou.”

Cas vertel van sy eie gewaarwording dat dit waarskynlik die rigting van sy lewe gaan wees, ’n misterieuse gewaarwording wat moeilik met woorde be­skryf kan word.

Sy eerste reaksie was om seker te maak dit gebeur nie. Hy is weermag toe en daarna gaan studeer hy drama.

“Letterkunde en drama lê my nog altyd baie na aan die hart, dit is wat ek eintlik wou doen en ’n loopbaan van maak.”

PODSENDING: LUISTER HIER

Maar die teologie wou hom nie los nie, daar was heeltyd hierdie vreemde besef dat dit iets is wat net moet gebeur. Toe hy uiteindelik toegee het hy ’n vreemde vrede ervaar en geweet hy is op die regte plek.
En dit is nie net die teologie wat hom nie wou los nie, die letterkunde ook.

Cas is ’n skrywer. Behalwe vir akade­miese artikels, skryf hy gereeld rubrieke en artlikels vir Vrye Weekblad, Netwerk­24 en ander publikasies. Hy het ’n aantal teologiese boeke geskryf en onlangs ’n uitgebreide akademiese stu­die oor die werk van Karel Schoeman.

Maar hy het veral ’n besonderse voorliefde vir fiksie. In 2013 word sy kortverhaalbundel Dubbelfoto gepubliseer. Sy nuutste roman Slaghuis het ver­lede jaar verskyn.

Die teologiese temas en sosiale kritiek in sy romans word op ’n unieke manier subtiel verpak, dit verwoord ons menslikheid, ontbloot ons dieper dors. Oor Johanna, Cas se vorige roman, skryf Johan Myburg: “Wepener onderskat nie sy leser nie. Hy laat genoeg ruimte sodat die leser ook tussen die reëls kan lees. Subtiel kom Nonna se politieke bewussyn deurgevleg, en eweso die dominee se satheid vir die gemeente, en kritiek op ’n samelewing wat eendersdenkendheid so hoog skat.”

Cas se grootwordjare was tussen die Groot-Karoo en die Tuinroete. Hy is gebore op George en was op skool in Hoërskool Outeniqua, maar hy wys daar­op dat hy eintlik die meeste gevorm is op Jansenville, waar hy vakansies en naweke sy pa moes help boer.

Ons gesels oor die mooi plekke, bewus daarvan dat ons, in kontras met die ooptes en die berge, onsself tans in grendeltyd bevind. Ek vra hom uit oor sy ervaring in hierdie tyd, oor die kerk se rol.

Hy vertel van Sheila Cussons se gedig “Eucharistie”. In die gedig wil sy graag kerk toe gaan en in die ry by die altaar gaan staan om die tekens van brood en wyn te ontvang. Sy word egter deur haar fisieke toestand (sy het erg verbrand) daarvan weerhou. Wanneer sy dan in die kombuis staan en kook, val ’n druppel sweet op haar vel en sy weet, Hy is nie net daar nie maar ook hier.

“Oor die algemeen kan ’n mens op hierdie stadium by haar poësie aanklank vind,” sê Cas, “want wanneer ’n mens dink aan godsdiens en spiritualiteit, koppel ons dit dikwels aan sekere plek­ke en Sheila Cussons koppel dit dikwels aan huislike omstandighede, veral die kombuis. Ons is almal op ’n manier nou ingekerker, maar as jy haar goed lees besef jy, jy is eintlik op heilige grond.”

Ek vra of hy raad het vir dominees en pastore in hierdie tyd en hy vertel van uiteenlopende omstandighede van die leraars wat hom die afgelope tyd kontak. Van hulle soek idees rondom liturgie vir video- of Zoom-eredienste en ander is iewers op die platteland waar die internetsein net te swak is om so iets enigsins moontlik te maak.

Kerkleiers worstel met ’n klomp vrae, van diep vrae waarin hulle teologies sin probeer maak oor wat besig is om te gebeur tot praktiese vrae oor die koste van data en watter nuwe kommunikasiemoontlikhede daar skielik is.

Wat ontstel Cas Wepener en wat gee hom hoop?

Hy is bewus daarvan dat mense se vrese na die oppervlak styg in tye soos hierdie. Wat hom bekommerd maak is die ekstreme posisies wat ingeneem word, al meer populistiese gedagtegange wat reg oor die wêreld meer en meer gewild raak.

Die twee ekstreme kante het ’n ma­nier om die stem in die middel te oordonder. Die ekstreme stemme is deesdae so ver verwyder van mekaar dat hulle mekaar amper glad nie meer kan hoor nie. En minder kommunikasie voor­spel niks goeds nie. Cas sê ekstre­me stemme is soms nodig, ons moet na hulle ook luister, maar solank hulle nie die stemme in die middel onhoorbaar maak nie.

“Ek dink ons het ’n baie sterker middelgrond nodig, mense wat kan kophou, nugter bly, probeer om die boot in die water te hou en rigting te hou,” sê hy.

Hy vertel dat hy in die gelukkige posisie is om met studente te werk. Die nuwe geslag en die manier waarop hulle dink, gee hom hoop, die feit dat hulle van die probleme waarmee ons voorheen teoreties gesukkel het vandag eenvoudig stukkend leef.

Cas sê hy sien oral ’n nuwe gesindheid en besef dat die grootste groep Suid-Afrikaners eintlik deel is van hierdie middelgroep, mense wat moeite wil doen om dinge te laat werk.