Groot impakstories kan piepklein begin

Bea du Toit (10) voeg nog ’n R50-noot by die pakkie geld in haar A5-koevert. Bo-op, met swart pen, het haar ma geskribbel: “Geld vir dominee Alex. Maak-jou-kas-skoon-pro­jek.”

Die R50 is vir ’n hopie klere wat sy in die plaaswinkel op hulle plaas in die Koue Bokkeveld aan werknemers teen ’n donasie-bedrag beskikbaar gestel het. Die omgewing was bevoorreg om deur die inperkingstyd steeds met ekonomie­se aktiwiteit te kon voortgaan as voed­selproduksie-nodus, maar weens inper­kingsreëls het baie van die werknemers ’n tekort aan klere of selfs toegang tot winkels om dit aan te skaf, gehad. Toe begin Bea kas skoonmaak.

Sover het sy amper R1 000 ingesamel en, sê sy, sy is nog lank nie klaar nie. Blykbaar is haar ma se kas volgende in haar visier en sy het al met haar tannie en ouma ook gesels dat sy dáár ook wil invaar. Die geld wat ingesamel word, gaan aan die plaaslike Badisa-kantoor vir hulle gemeenskapsprojekte.

Die bereidwilligheid bestaan

Bea is nie die enigste Suid-Afrikaner wat wil gee nie. Die Covid-19-pandemie en die onafweerbare impak daarvan op die land, en ook die wêreld se ekonomie, het oral noodsituasies geskep. Mense kry swaar.
Tóg het die pandemie ook tot gevolg gehad dat miljoene mense tot aksie aan­gespoor is om iewers te probeer help.

Altesaam 130 “tuinhollers” (’n nuutskepping om al die mense wat klein sirkeltjies in hulle tuin hardloop te beskryf) het op 30 April 2 km, 5 km, 10 km of 21 km gehardloop en sowat R12 000 is ingesamel.

“Die Covid-19-pandemie en ge­paard­gaande staat van inperking vra van ons en dwing ons om met nuwe harte en hande op die situasie te reageer,” sê ­dr Llewellyn MacMaster, mo­derator van die VGK Kaapstreek. Hy maak dié opmerking in ’n video wat onlangs saam met die bekendstelling van Diaconia, die gesamentlike barmhartigheidsbedie­ning van die NG Sinode van Wes-Kaapland en die Verenigende Ge­re­formeerde Kerk Streeksinode Kaapland, se ramp­ondersteuningstrategie ge­plaas is.

Andy Hadfield, HUB van die aanlyn sosiale platform forgood.co.za (wat mense aan liefdadigheidsdoelwitte en veldtogte koppel), sê dat hulle reeds meer as 55 000 besoekers sedert die begin van Maart op hulle platform gehad het. Waar die blad gewoonlik weekliks tussen 50 en 100 vrywilligers verwerk, het die getal tydens inperking tot by 400 per week geklim. Sedertdien het dit weer tot op normale vlakke teruggekeer.

“Dit lyk asof die inperking mense die geleentheid gegee het om aan ander te dink en, in sekere gevalle, om iets daar­aan te doen,” sê hy.

Dit kan egter nogal oorweldigend raak om te weet hoe en waar om te gee. Een oplossing is skarefinansiering, waar ’n klomp mense hulle geld saampoel vir een saak.

BackaBuddy is een van die platforms in Suid-Afrika wat dit moontlik maak. Sedert die begin van die inperkingstyd het dié platform al meer as R10 miljoen spesifiek vir Covid-19-aksies ingesamel, sê Zane Groenwald, BackaBuddy se bemarkingsbeampte.

“Daar is ’n geweldige toename in vrywilligheidswerk waar mense geld insamel vir hulle eie, en ander, gemeenskappe,” sê hy. “Mense hardloop maratons tuis, vra vir donasies eerder as geskenke op hulle verjaardag, ens.”

Só het die NG Gemeente Suidkus in Amanzimtoti, KZN byvoorbeeld op 30 April ’n Lockdown Fun Run gehou. Gemeente- en gemeenskapslede kon vir ’n fooi inskryf om deel te neem en in die afsondering samehorigheid vind.

Ds Marius Schoombie, predikant by dié gemeente, sê die doel van die pretloop was veelvuldig – om alleenheid te breek, as inspirasie vir mense om aktief te bly en om fondse in te samel sodat die gemeente ’n hawe van hulp en hoop kan bly.

Altesaam 130 “tuinhollers” (’n nuutskepping om al die mense wat klein sirkeltjies in hulle tuin hardloop te be­skryf) het op 30 April 2 km, 5 km, 10 km of 21 km gehardloop en sowat R12 000 is ingesamel.

“Die gevoel van eenheid wat die pretloop geskep het, was egter van onskatbare waarde,” sê Schoombie. “Ons dink baie keer om te gee gaan net oor geld. Daar is baie meer om te gee as dit. Jou energie, liefde, gemeenskap en vreug­de kan soms baie meer beteken as ’n klomp munte.”

Bea du Toit (10) het haar deel gedoen in ’n kasskoonmaakprojek in die Koue Bokkeveld.

In Suid-Afrika is daar tans verskeie noodfondse waar hulpbehoewendes vir ondersteuning kan aansoek doen. Liefdadigheidsorganisasies verskaf kos, kle­re en huisvesting vir ’n samelewing waar die ekonomie inmekaar getuimel het. Die regering het ’n ekonomiese herstelplan van by die R500 miljard aangekondig. Die Solidariteitsfonds, tans op R2,5 miljard, is nog een van die ekonomiese antwoorde op die krisis.

“Ons sal – en ons moet – alles doen wat ons kan om van hierdie menslike, sosiale en ekonomiese krisis te herstel,” het president Cyril Ramaphosa in sy rede op 21 April gesê. “Ons land en die wê­reld gaan nooit weer dieselfde wees nie. Oor die laaste maand het Suid-Afri­kaners hulle hart vir mekaar reeds oopgemaak.”

Elke bietjie help

In Moreletapark, Pretoria, kyk die 13-jarige Hanco Louw sowat twee weke gelede uit oor die besige straat wat voor sy huis verbyloop. Verskeie voetgangers is op pad werk toe onder Vlak 4-regulasies.

“Baie min van hulle het maskers opgehad. Ek is geleer dat ’n mens moet gee sonder om iets terug te verwag,” vertel Hanco. Die materiaalkas in sy ouerhuis is summier oopgemaak en ma Christelle Retief is opgekommandeer om maskers te begin maak.

Agttien maskers van verskillende groottes (individueel verpak in plastiek­sakkies) is in ’n kartondoos buite die hek staangemaak met ’n vrolike plakkaat wat aankondig: “Need a mask? Just ask!” Binne ’n halfuur was dié voorraad opgeraap.

“Ek het al ’n spasma in my rug van al die maskers wat ons gemaak het,” lag Christelle. Sover is net onder die 100 maskers op dié manier uitgedeel. Vrien­de en ondersteuners begin nou mate­riaal skenk, maar die plan is eintlik om ander individue uit te daag om ook só ’n boks voor hulle hek staan te maak.

Hanco se boodskap aan mense wat oorweldig voel en nie weet waar om te begin nie, is eenvoudig: “Dit maak nie saak wat jy doen nie, jy moet net iewers ’n verskil maak. Een mens kan dalk nie die wêreld verander nie, maar jy kan die wêreld vir een mens verander,” sê hy.

Jeanette Clark is ’n vryskutjoernalis.